
’n Effens kleiner groep inwoners van Rehoboth as die afgelope Maandag was gister terug in die Hardapdorp se strate om opnuut te betoog ten gunste van die heraanstelling van die omstrede mnr. Bartholomeus (Pietertjie) Pieters as burgemeester. Die vorige opmars was onwettig aangesien hulle nie die polisie se toestemming gehad het nie. Intussen het dit aan die lig gekom dat die hoof uitvoerende beampte, mnr. Theo Jankowski, en mnr. Willie Swartz, personeelbestuurder, laat Dinsdag by die dorpskantore deur ’n groep van vyf mense met kieries en stokke met geweld gedreig is. Die amptenare het klagte by die polisiekantoor aanhangig gaan maak, waar die dreigemente voortgeduur het. Die dorpsraad het gevra vir polisiebeskerming wanneer hulle meterlesers na sekere huise gaan. ’n Vergadering sal Sondag om 15:00 by die Oanobsaal plaasvind waar streekraadlid Eduard Wambo antwoorde oor die afdanking van Pieters en die klagskrif sal gee.