9.02.2012 Twee Australiërs sterf in ongeluk
 Die landreisigervoertuig wat gistermiddag net oos van Usakos omgeslaan en gerol het nadat een van sy wiele blykbaar uitgeval het. Twee Australiese vroue het in die ongeluk gesterf.
TWEE Australiese toeriste, albei vroue, het gister in ’n ongeluk op die hoofpad tussen Karibib en Usakos gesterf. Nog nege ander toeriste en die bestuurder is beseer.
Die landreisigervoertuig (“overlander”) van African Trails van Brittanje was van Tanzanië na Swakopmund onderweg toe die ongeluk sowat 8 km voor Usakos gebeur het.
Die voertuig het omstreeks 12:00 gerol nadat een van die agterwiele blykbaar uitgeval het.
Volgens omstanders op die toneel het een van die toeriste kopbeserings opgedoen terwyl nog ’n man sy been gebreek het. Die ander insittendes en die busbestuurder is net lig beseer.
Die bystandvoertuig van die Motorvoertuigongelukfonds op Usakos en die ambulans van die hospitaal op Usakos het die beseerdes na die hospitaal vervoer.
’n Woordvoerder van African Trails in Brittanje wou geen kommentaar op die voorval lewer nie.
Die name van die oorledenes is teen druktyd nog nie bekendgemaak nie.
|