15.03.2010 Swartmamba maak amok
BRAD het aan slangbyt gesterf. ’n Swartmamba het hom op ’n hoewe sowat tien kilometer oos van Omaruru gebyt. Maar Angie leef.
Dié Brad en Angie is nie die beroemde Hollywoodse filmsterre Brad Pitt en Angelina Jolie nie, maar wel twee Jack Russel-hondjies wat na die beroemde paartjie en hul Namibiese kuiertjie in 2006 genoem is. Hulle was in ’n vierhoekige stryd tot die dood betrokke waarin ook die swartmamba en ’n herdershond hul lewens kwyt was.
Die stryd van die groot slang het Saterdagoggend op Henwood afgespeel waar me. Mary Lang eens met hoenders geboer het. Juis die hoenderboerdery van weleer word as rede vir die baie slange op Henwood aangevoer. Daar slaan me. Lang so al om die ander week slange sommer met ’n graaf dood.
Bugsy is ’n volgroeide herdershond, maar sukkel die afgelope twee weke met swak sig nadat ’n sebraslang hom in sy oë gespoeg het. Saterdagoggend het me. Lang ’n gedoente in ’n werfkamer op Henwood gehoor.
Toe sy ondersoek gaan instel het, het sy vasgestel dat die deur vermoedelik deur die drie honde oopgebreek was. In die kamertjie het sy op die stukke van ’n slang afgekom. Die honde het die gebroedsel so deurgebyt dat dit soos stukke van ’n tuinslang gelyk het. Dit was so groot dat sy vermoed het dit was ’n luislang.
Bugsy en Brad het gesnuif en met hul pote oor hul neuse gevryf. Steeds menende dat dit ’n luislang was, het sy met die slangstukke in ’n emmer vir uitkenning en middagete na die plaas van haar seun, mnr. Adrian Lang, en sy vrou, Manda, gery.
’n Buurman was ook daar. Hulle het gemeen dis g’n luislang nie, maar wel ’n swartmamba. Toe sy omstreeks drie-uur Saterdagmiddag weer op Henwood aangekom het, het die twee honde daar dood gelê. Net Angie het geleef vir haar volgende stryd met Henwood se slange.
|