23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.09.2010

Swapo-stryd trek stroom op Rehoboth

© Republikein
Theo Diergaardt.
REHOBOTH se dorpsraad het Vrydag op sy sitting volgens burgemeester Dawid Richter die standpunt herbekragtig dat streekraadlid Theo Diergaardt en sy moeder Amanda krimineel aanspreeklik gehou moet word vir geld wat hulle na bewering uit inwoners van die polities kwaai verdeelde dorp se kontant vir koopkrag “geleen” het.

Terselfdertyd het die raad volgens mnr. Richter besluit om ’n forensiese ondersoek aan te vra na die verdwyning van N$85 000 in dieselfde tydperk. Hierbenewens kan Republikein onthul dat die hele dorp se elektrisiteit so ampertjies gister afgesny was weens N$2,6 miljoen se agterstallige skuld aan NamPower.

Die uitlap van die dorpsgeheime is uit teenoorgestelde Swapo-kampe op Rehoboth afgemaak as wedersydse politieke komplotte om mense genoeg te beswadder om hul name van stembriewe vir die November-verkiesings te hou. Gister was die sperdatum vir voorlegging van alle nominasielyste aan Swapo se hoofkantoor in Windhoek.

Die regerende party se interne goedkeuringsproses van kandidate sal na wat verneem word vandag begin. Volgens Rehoboth se dorpskoerant, Die Voorslag, kon nie mnr. George Dax – met net een stem – of mnr. Bongo Ihalwa en me. Cecilia McNab-Sherally, met drie stemme elk, die paal haal nie.

“By ons is daar niks geld weg nie,” het mnr. Diergaardt opnuut verseker.

“Dit het seker by die dorpsraad weggeraak,” voer hy aan.

“Hulle soek my posisie,” het die lid van die Nasionale Raad gesê.

Hoewel mnre. Richter en Theo Jankowski, die munisipaliteit se hoof uitvoerende beampte, teen die naweek voet by stuk gehou het dat hulle niks van die kragpenarie of ’n voorgenome noodafspraak met die nasionale kragvoorsiener weet nie, het mnr. Paulinus Shilamba, NamPower se besturende direkteur, die inhoud van ’n skriftelike aanmaning aan die dorpsraad op 25 Augustus bevestig, asook dat mnre. Richter en Jankowski gister met hom in gesprek was.

Die kragkrisis volg kort op die hake van ’n kontantkrisis wat verlede week veroorsaak het dat wanbetalers op Rehoboth se watertoevoer links en regs afgesny is om genoeg geld bymekaar te skraap om dorpsamptenare se salarisse te betaal.

“Ons het alle strydpunte bygelê,” het mnr. Shilamba benadruk.

“Die rekening is skoongemaak. Hulle het alle uitstaande bedrae vereffen,” het NamPower se grootbaas gesê.

Volgens NamPower se skrywe sou die voorsiener gister kragtoevoer na die dorp afgesny het as Rehoboth nie teen Vrydag N$2,6 miljoen opgedok het nie. Die brief sê die munisipaliteit se opgehoopte skuld aan die kragvoorsiener het teen Junie N$1,4 miljoen beloop.

Die ooreenkoms was dat die dorp oor vyf maande die bedrag met paaiemente van N$287 429,50 sou delg. Net een betaling is volgens die aanmaning ontvang, terwyl NamPower die dorpsleiers berispe het dat hulle die laaste jaar reeds verskeie kere oor Rehoboth se kragskuld aangespreek moes word. Mnr. Jankowski wou Sondag geen formele kommentaar oor die dorp se kragskuld lewer nie.

“Ons het ’n ooreenkoms met NamPower,” het hy bloot benadruk. “Soos by enige maatskappy is daar maar sulke klein opdraandes en afdraandes,” het hy opgemerk.

Ook mnr. Shilamba het aangevoer dat enige verhouding, soos ’n huwelik, maar sy haakplekkies het. Hy het dit betreur dat mense te koop loop met vertroulike kliënte-inligting.

“Ek het die situasie so kom kry,” het mnr. Jankowski benadruk. Hy het die koerant daaraan herinner dat hy twee jaar uit sy pos was.

“Ek probeer die beste van die saak maak,” het die hoof uitvoerende beampte gesê.

“Oor baie dinge is ek nog oningelig. Maar ons werk hard om sake een vir een reg te ruk.”

Mnr. Jankowski het glo beswaar gemaak teen ’n reis na Durban in Suid-Afrika terwyl die munisipaliteit juis so platsak is. Blykbaar het die raad die besoek in Oktober op die lange baan geplaas hangende die beskikbaarheid van geld.

Mnr. Richter se antwoord op hardnekkige skinderstories oor sy onlangse ongeluk met ’n ampsmotor tydens ’n reis na Swakopmund, was dat hy op ’n goedgekeurde besoek aan ’n watersuiweringsaanleg was en dat ’n besope bestuurder teen hom vasgery het toe hy dié wou verbysteek.

“Dit kan met enigeen gebeur,” het die burgemeester benadruk.