23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

9.02.2012

Suiwel se donkerste uur

© Francois Poolman

NAMIBIË se beleërde suiwelprodusente het ’n beroep op die Regering gedoen om dringend regverdige spelreëls te implementeer wat die storting van gesubsidieerde buitelandse suiwelprodukte sal verbied.

So nie moet die Regering ’n verbod plaas op ingevoerde suiwelprodukte wat nie hormoonvry is nie of wat tydens produksie aan verbode voedingaanvullings en antibiotika blootgestel was.

Die handjievol suiwelprodusente wat in die land oor is, sê hulle sal geen ander keuse hê nie as om van hul werkers te laat gaan indien die Regering nie ingryp om die bedryf van ondergang te red nie.

Die Suiwelprodusentevereniging van Namibië sê in ’n verklaring regverdige handel en gelyke spelreëls is nou nodiger as ooit om plaaslike melkboere te beskerm.

“Namibië is die enigste land binne die Suider-Afrikaanse Doeane- unie (SACU) wat sy suiwelbedryf ten volle gedereguleer het en teoreties gesproke een geword het met die Suid-Afrikaanse suiwelmark omdat geen handelsbeperkinge tussen die twee lande bestaan nie,” lui die verklaring.

“Namibië se suiwelvolumes verteenwoordig ’n skrale 1% van die totale Suid-Afrikaanse/Namibiese suiwelmark en dit maak die plaaslike bedryf uiters kwesbaar vir grys invoere via Suid-Afrika.”

Luidens nuusberigte in Suid- Afrika het Clover, die Suid-Afrikaanse vervaardiger van suiwelprodukte ’n ooreenkoms met Uruguay aangegaan om vier miljoen liter langlewe-melk (UHT) in te voer.

Volgens ’n ingeligte bron is ’n beduidende hoeveelheid van hierdie melk in die ou Ultra Mel-houers verpak – ’n handelsmerk wat nie langer deur Clover gebruik gaan word nie. Van dié melk is teen N$8,99 per liter in Namibië verkoop.

Mnr. Kokkie Adriaanse, voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging, sê die vereniging het reeds met behulp van ’n motivering deur die Handelsforum vir Landbou (ATF), die Regering probeer oortuig om grensbeheer te verskerp en ’n heffing van 15% in te stel op alle suiwelprodukte wat die land inkom.

Die vereniging het hom aanvanklik tot die Ministerie van Handel en Nywerheid gewend, maar is later na die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou verwys waar sy pleidooi eweneens op dowe ore geval het.

Volgens Adriaanse het die vereniging besluit om hom opnuut tot die Regering wend – dié keer met ’n sterker motivering.

“Suid-Afrikaanse produsente het ’n betekenisvolle kompeterende voordeel bo hul Namibiese eweknieë omdat hulle die sintetiese hormoon rBST gebruik om melkproduksie te stimuleer. Terselfdertyd gebruik hulle ook voedingaanvullings soos rumensin, antibiotika en sekere entstowwe om koeie se gesondheid te verbeter en hul melkproduksie te verhoog.

“Ons hier in Namibië kan nie met hulle kompeteer nie – nie omdat ons minder produktief is nie, maar omdat ons bedryf die gebruik van hierdie stimulante verbied,” sê hy.

Suid-Afrikaanse graanprodusente kan ook GM-gewasse (geneties gemanipuleerd) verbou wat droogte-, vloed- en pesbestand is. Dit beteken veevoer kan goedkoper geproduseer word, wat melkprodusente in dié land se produksiekoste verminder.

Volgens hom is die prys wat melkboere in Namibië vir hul produk ontvang, drie jaar gelede laas aangepas en die kans is feitlik nul dat hulle in die afsienbare toekoms beter pryse kan verwag. Intussen styg produksiekoste wat beteken melkboere se winste kom al meer onder druk.

Adriaanse sê produsente het verlede week tydens ’n spesiale vergadering oor die winsgewendheid van die bedryf besluit om koste te bespaar deur hul arbeidsmag te verklein en na meer kostedoeltreffende vervoerkeuses te kyk.

“Oor ander aspekte van die kosteketting soos water en elektrisiteit het ons nie veel beheer nie. So ook nie oor voer nie,” sê Adriaanse.