EERSTE Minister Nahas Angula herdenk Sondag sy 67ste verjaardag.
In ’n onderhoud met Republikein wou die Premier geen geheime uitlap oor hoe hy die dag gaan deurbring nie.
“My verjaardag is ’n absolute private aangeleentheid en ek wil nie hê dit moet enige openbare plek in beslag neem, in die koerante of enige ander openbare media nie tot ek, as dit God se wil is, die dag 70 jaar oud word. As ek die dag 70 is, is dit reg. Dan kan julle enigiets oor my verjaardag skryf,” het Premier Angula gesê.
“As ek myself moet vergelyk met mense soos mnre. Mze Kaukungua en Andimba Toivo ya Toivo, dan is ek nog baie jonk, veral as ek my met hulle of die stigterpresident vergelyk. Maar as ek myself met die gemiddelde Namibiese persoon vergelyk, is ek nie so jonk nie. So, ek is nou so tussenin. Daarom is my verjaardag ’n private aangeleentheid,” het hy verduidelik.
Hy is op 22 Augustus 1943 gebore.
Jeugherinneringe
Gevra oor die ondervindinge wat hy ses dekades gelede as ’n jong seun in die landelike noordelike deel van Namibië gehad het, vertel hy dat die lewe heeltemal anders was.
“Ek het grootgeword in ’n ‘omukunda’. Dit is ’n versameling nedersettings wat deur ’n hoofman regeer is. Daar kon tien, twintig of dertig sulke nedersettings in ’n ‘omukunda’ wees. Die hoofman het aan ’n senior hoofman rapporteer en hy op sy beurt aan die koning van die Ondongwa. Tradisionle owerhede was baie sterk.
“Indien iemand ’n misdaad begaan in die nedersetting en indien die misdaad so ernstig is soos om iemand se dogter swanger te maak, sou die persoon na die hoofman, ‘mwene gwokunda’ geneem word. Hy sal dan die persoon verhoor om vas te stel of die persoon daarvoor verantwoordelik was of nie.
“Of hy nou skuldig is nie of nie, hy sou verantwoordelik gehou word omdat ’n kind in ons gemeenskap ’n ma en pa moet hê. Die eerste reël is om geregtigheid te laat geskied. Wanneer ’n misdaad gepleeg is wat so erg is soos byvoorbeeld iemand se kind wat beseer is en bloed is vergiet, is die verdagte na die senior hoofman vir verhoor geneem. Omdat bloed op die grond van ’n koning gestort is, moes die skuldige een bees of meer, afhangend van die erns van die misdaad, aan die koning en aan die ouers van die kind betaal.
“Terwyl ons grootgeword het, het die koloniale owerheid sy houvas oor die noorde van Namibië versterk. ’n Polisiediens is ingestel en het operasioneel geword. Die Wambo-kommissaris het oorgeneem en begin met die verhoor en straf van sekere misdade. ’n Moord was byvoorbeeld nou buite die jurisdiksie van ’n koning. Nou is dit deur die kommissaris verhoor.
“Nog ’n spesiale mag in die samelewing was die Finse sendelinge wat skole, klinieke en gemeentekerke gestig het.
“Hierdie drie instansies, tradisie, kolonialisme en sendingkerke, het die lewens van die mense in ons gebied gevorm. ’n Kombinasie van hierdie invloede het my lewe gevorm en die van ander wat daar grootgeword het.
“Die koloniale owerheid wou byvoorbeeld jong mans hê om as kontrakwerkers te gaan werk. Ons het aaklige stories gehoor van die omstandighede waaronder hulle gewerk het. In my geval het ek gekies om dit nooit te doen nie en besluit om skool toe te gaan. Ek glo vandag dat dit die regte besluit was.
“In daardie dae is skole deur die sendingkerke bestuur. Daar was kosskole en ons moes daarheen gaan. In die proses het ons baie ander jong mense uit ander dele van Namibië ontmoet. Ons het deur sosiale interaksie met ander begin om ons horisonne te verbreed.
“Ek onthou in 1961 moes ek ’n seunskool by die Finse sendingstasie by Engela gaan bywoon. Engela was in die Oukwanyama- stamgebied. Vir my was dit ’n ondervinding omdat ek ’n verskillende dialek van die Oshiwambotaal moes leer. Hul kulturele gebruike en optrede het verskil van die Ondonga kulturele norme waarmee ek grootgeword het.
“In die vroeë 1960’s het ’n nuwe maatskaplike mag tot stand gekom, naamlik die Owambo People Organisation (OPO). Dit was die tyd van die deportasie van mnr. Toivo ya Toivo uit Kaapstad en sy gevangenisskap deur koning Eino Johannes Kambonde. Dit het die politieke bewustheid van baie jong mense verhoog. Dit het saamgeval met die anti- Portugese opstande in Angola onder leiding van Holden Roberto. Politieke bewustheid het soos ’n wegholbrand versprei.
Aangesien daar min kolonialiste in die Noorde was, was die teiken van die politieke stryd teen die tradisionele leiers gemik wat saamgesweer het met koloniale owerhede en regstreekse regering afgedwing het terwyl die koloniale owerhede nie regstreekse beheer uitgeoefen het.
“Nog ’n groot invloed op ons lewens was tradisionele boerderymetodes. Vanweë die oorbevolking van mense in die wintertyd, het ons beeste na veeposte geneem. Dit was ’n moeilike taak. By die veepos moet jy ’n put grawe, so diep soos 20 meter, om water vir die beeste te kry. Op ’n manier was dit deel van die grootwordproses as seun. Dit was goeie voorbereiding vir die take wat op ons gewag het toe ons volwasse word,” vertel Premier Angula.
Hoogtepunte van ’n roemryke loopbaan
Gevra om terug te dink aan sy lang en roemryke loopbaan en sekere hoogtepunte uit te sonder, sê Premier Angula elke oomblik van ’n mens se lewe is iets om te herdenk. Tog is daar sekere oomblikke wat uitstaan.
“Die eerste een waaraan ek kan dink, is toe ek in 1959 my ouerhuis verlaat het om na die seunskool te gaan in ’n ver plek en ander seuns van ander gebiede daar ontmoet het.
“Aangesien ons die nuwelinge was, was daar ’n stelsel om die nuwes te behandel en hulle te mishandel. Dit was uittarting van die hoogste graad. Jonk soos ons was, het ons dit teengestaan, maar op ’n manier het dit ons aan die lewe in ’n vyandige omgewing met min toesig van ouers en volwassenes blootgestel. Van daardie tyd af haat ek koshuise omdat dit tot mishandeling deur die magtiges kan lei.
“Nog ’n hoogtepunt was toe ek in 1964 na Herman ya Toivo se winkel op Ondangwa gegaan het om vir myself ’n lidmaatskapkaart vir Swapo te koop. Daar was destyds baie stories oor mnr. Ya Toivo en hy is deur sowel die hoofmanne as die koloniale owerheid as opsteker verguis en selfs ’n heks genoem. Hy sou kwansuis die lekkers wat hy verkoop het, vergiftig het. Hy was ’n baie interessante mens. Hy het baie vrae gevra om uit te vind of ons ernstig is om by ’n politieke party aan te sluit.
“In 1965 het ons besluit om by die bevrydingstryd in die buiteland aan te sluit. Ons het besluit om al die pad vanaf Ondangwa deur Oos-Ohangwena, die westelike Kavango, Rundu, die oostelike Kavango, verby die Divundugebied te stap en die grens na die destydse Betsjoeanaland oor te steek. Ons is na die dorp Shakawe.
“Daar was vyf van ons onder wie (die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, mnr.) Nangolo Mbumba. Ek was skaars 20 jaar oud. Ons het Shakawe uiteindelik bereik en ander Namibiërs gekry wat ons vertel het hoe om in Francistown te kom. Ons het ’n saamrygeleentheid gekry na Maun en daar Herero-sprekende Tswanas gekry wat ons huisvesting gegee het en vervoer na Francistown vir ons gesoek het. Kersfees 1965 het ons in Maun deurgebring.
“Uiteindelik net voor die nuwe jaar het ons Francistown bereik. Nou was ons doel om Zambië toe te gaan. Ons het tot Maart 1966 in Francistown gebly. Toe Kwame Nkruma se bewind in Ghana omvergewerp is, was ons almal verslae dat hierdie groot Pan-Afrikaan, wat vir die onderdruktes van Afrika opgestaan het, uit die kussings gelig is.
“Dit was ’n lang reis wat my tot 1989 geneem het om terug te keer huis toe,” onthou Premier Angula.
Terug uit ballingskap
Met die terugkeer uit ballingskap was daar heelwat nuwe ervarings en herinneringe vir die Eerste Minister.
“As ’n mens grootgeword het in ’n bevrydingstryd, is een van die voorwaardes vir die behoud van jou geestelike gesondheid om ter wille van die kollektiewe van jouself te vergeet. Tot en met my terugkeer na Namibië het ek moeilikheid gehad om buite die breër Namibiese omgewing oor myself te dink. Ek dink aan myself met betrekking tot ander mense. Met ons terugkeer was die fokus op die vraag of die proses van verkiesings wel bevryding sou bring. Dit was ’n groot vraag. As dit nie sou gebeur nie, was die vraag, wat is die volgende stap, al wou ons nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie.
“Een van die hoogtepunte was dat ek verheug was om te sien my ouers lewe nog. Tog het ek heelwat veranderinge om my ‘omukunda’ gesien. Ek kon nie eens my vader se nedersetting herken nie, omdat soveel goed verander het. Vir die seën kan ’n mens net God bedank, want baie wat uit ballingskap teruggekeer het, se ouers het ondertussen gesterf. Ek was gelukkig in daardie opsig,” vertel die Premier.
Boodskap aan die jeug van vandag
“Toe ons grootgeword het, en mens verwys miskien te maklik na ‘die goeie ou dae’, was ons deur idealisme aangevuur. Die gedagtes van vryheid, bevryding, gelykheid en geregtigheid het ons aangedryf. Vanweë die agtergrond van ongeregtigheid waarin ons grootgeword het, was ons geïnspireer en dit was ons verwysingspunt.
“Vir die jeug van vandag, wel, hulle besef politieke bevryding het plaasgevind, hulle het progressiewe Grondwet, instansies van die staat funksioneer en ongelukkig het die idealisme wat ons aangespoor het, in baie van hulle vervaag.
“In my jong dae is neergesien op materialisme. ’n Mens leef nie omdat jy ryk wil wees nie, maar geregtigheid in die samelewing wil bring. Nou glo baie om te leef, is die strewe na rykdom. Ek het geen probleem met mense wat ryk word deur hard te werk en opofferinge te maak en geen kortpaaie te vat nie.
“As jy jou rykdom verdien, sal ek dit vier, maar as jy die politieke leer wil gebruik om ryk te word en op die rûe van armes trap om finansiële bronne te bekom, geniet en verdien jy nie my respek nie.
“Geld mag gemak verseker, maar dit is nie alles nie, ’n goeie naam is vir my baie belangriker.
“Ek sal liewer arm wees en met ’n goeie naam sterf. Dit is wat nou onder baie van ons jongmense kortkom.
Die gees van samewerking vir die gemeenskaplike welstand van ons samelewing is vinnig aan die verdwyn. Dit is elkeen vir hom- of haarself en God vir ons almal. Vir my is dit verraad van die opofferinge wat deur die vryheidsvegters van hierdie land gemaak is,” het die Premier gesê.
Wat sy verjaardag betref en wat hy vir die dag beplan, wou mnr. Angula nie die aap uit die mou laat nie. Hy het egter laat glip dat daar beslis nie ’n partytjie sal wees nie, en dat hy waarskynlik die dag in vrede op sy plaas sal deurbring.