26.02.2010 Sterk reënbuie val in Noorde, Zambezi styg steeds
DIE weerstelsel wat tans oor Suidelike Afrika voorkom, is uiters onvoorspelbaar, het prof. Kobus Botha, eienaar van die webtuiste www.weatherphotos.co.za in Pretoria, gesê. H
y het op sy webtuiste gewaarsku dat Namibië gemonitor moet word weens die sterk stelsel in Angola wat op die oomblik swaar oor daardie land hang. Volgens sy webtuiste blyk dit asof die stelsel besig is om na Namibië te beweeg. Prof. Botha sê hy kan nie ’n definitiewe voorspelling verstrek oor waarheen hierdie stelsel sal beweeg nie.
“Die stelsel is baie sterk en terselfdertyd baie optimisties. Dit is vir my moeilik om enige voorspellings te waag,” het hy gesê. Hy sê ook inwoners van die Noorde moet nie paniekerig word oor swaar reënval wat vermoedelik daar sal uitsak nie, “want niemand kan sê wat sal gebeur nie.”
Prof. Botha sê Angola ervaar swaar reënbuie wat oor die land val.
“Die stelsel wat tans aan die heers is in Suidelike Afrika speel met ons. Vir een oomblik lyk dit asof die noorde van Namibië onder aanval sal wees en die volgende oomblik is daar geen teken van swaar wolke nie. Geen mens kan sê wat volgende sal gebeur nie. Ek is te bang om te voorspel en wil dit voorlopig eerder nie doen nie,” het hy gesê.
Soos Woensdag berig, is inwoners van die Caprivi-streek reeds aangeraai om te verskuif weg van die Zambezirivier, wat Dinsdag by Katima Mulilo amper 50 cm dieper gevloei het as dieselfde tyd in die aanloop tot verlede jaar se groot vloed.
Intussen het die Zambezirivier met ’n verdere 20 cm sedert Dinsdag gestyg by die Katima Mulilomeetstasie toe mates gisteroggend op ’n hoogte van 4.53 m aangedui het. Die Chavuma-meetstasie het gisteroggend ’n hoogte van 8.2 m aangedui, ’n styging van 37 cm sedert Dinsdag.
Daarenteen het die Lukulu-meetstasie ’n hoogte van 6.48 m geregistreer. (Sien grafiek) Swaar reën word steeds vir die boonste opvanggebied van die Zambezirivier voorspel. Volgens die riviersverlag sal die rivier teen volgende week by Katima Mulilo tot meer as 5 m styg en die verwagting is dat hoër vlakke in die loop van die daaropvolgende dae sal voorkom.
Die Cuvelai-gebied het Woensdag ook goeie neerslae aangeteken met die hoogste van 33.6 mm wat op Onayena gemeet is. Oshakati het 27.4 mm reën ontvang, terwyl 18.2 mm en 14.4 mm onderskeidelik op Oluno en Ekamba aangeteken is.
Goedemud in die Hochfeld-gebied het Woensdag die hoogste reënval ontvang met 63 mm wat daar uitgesak het. Op Ondangwa het 21.4 mm reën geval.
Francios Olivier
|