9.02.2012 Stakers wil nie bes gee
 Saamstaan. Dit was gister die boodskap van hierdie groep ontevrede TransNamib-werkers by die Windhoek-stasie. Hulle het benadruk dat Walvisbaai nie alleen staan in ’n arbeidsprotes wat vandag ’n negende dag betree nie. “Vragmotorbestuurders verdien meer as ons, terwyl ons baie meer waardevolle vrag karwei,” het een gesê.
’n EERSTE goederetrein het gister omstreeks 16:00 ná ’n onwettige staking wat reeds agt dae duur, op Walvisbaai briek losgemaak en uit die stasie vertrek.
Die vrag was suur en die bestemming die Rössing-uraanmyn.
’n Tweede trein met vliegtuigbrandstof sal blykbaar vroeg vanoggend na Windhoek vertrek.
“Ons werk, ons werk hier by TransNamib,” is uit die rangeerwerf op die hawedorp gesê. Uit ander oorde is egter beweer dat nog net vier mense hier weer werk.
As almal vanoggend weer inval, kan dit nog ’n dag of twee duur voordat spoorvervoer normaliseer. Werkers wat ontevrede is met TransNamib se nuwe salarisstruktuur, het teen saktyd steeds aangedring op ’n skriftelike onderneming dat hul griewe binne ’n vasgestelde tyd bygelê sal word en dat alle oorblywende ongelykhede terselfdertyd uit die betaalstelsel verwyder sal wees.
“Die ouens staan vas,” is uit Walvisbaai gesê. “Hulle wil nie luister nie.”
Ook in Windhoek het treindrywers, hul assistente, bestuurders van die spoornetwerk en rangeerders wel vir werk aangemeld, maar nie ’n hand uit die mou gesteek nie.
Op ’n mediakonferensie in Windhoek het die direksie vir mnr. Titus Haimbili, die nasionale karweier se hoof uitvoerende beampte, en sy bestuur aan ’n gevoelige, openbare skrobering onderwerp. Haimbili se daaropvolgende verskoning was aan die President, kabinet, mnr. Erkki Nghimtina as Minister van Werke en Vervoer, kliënte en die hele land gerig.
“Dit is duidelik dat geen behoorlike konsultasie en kommunikasie (met werkers en hul vakbond) plaasgevind het voor of na 8 Desember 2012 nie,” het me. Sara Naanda, waarnemende voorsitter van die direksie, gesê.
Die direksie het op die datum op sigwaarde aanvaar dat die bestuur sy werk gedoen het en dus die voorgestelde nuwe salarisstruktuur – ’n sleutelelement van die staatsinstelling se ommekeerstrategie – goedgekeur.
Naanda het Dinsdag se versoek deur die bestuur om implementering te staak as ongehoord bestempel. Dit is verwerp weens onder meer moontlike regsimplikasies.
Begrip vir die stakers het die direksie egter glad nie. In die beroepe waar nou gestaak word, het mense se salarisse met tot 26,9% verbeter. Naanda het herhaal dat buiten vir toekomstige aanpassings werkers nog vanjaar weer bykomende verhogings kan kry, wat groter sal wees omdat baie mense heelwat meer verdien.
Sommige werkers het net 0,1% of effens meer bygekry, maar in die enigste geval waar iemand geen voordeel getrek het nie, was hy reeds bo die maksimumkerf.
“Houe en verskonings” het volgens Haimbili gereën op ’n vergadering met verteenwoordigers van die Namibiese Unie vir Vervoeren Verwante Werkers (Natau) wat tot laat Dinsdagmiddag geduur het. Mnr. Dawid Tjombe, Natau se president, het bevestig dat ingestem is om Saterdag se hofbevel ter eerbiedig.
Werkers moes gister al om 07:00 inval – wat duidelik nie gebeur het nie.
Onderhandelinge wat arbeidsvrede moet herstel, sal vandag tussen die bestuur en ’n vakbondkomitee hervat.
Haimbili het die staking as “ongelukkig” bestempel en erken dat die oproer verhoed kon gewees het. Hy het belowe dat daar nooit weer ’n herhaling van die krisis sal wees nie en dat volkome deursigtigheid met toekomstige besluite toegepas sal word.
Dissiplinêre stappe en die verhaling van geld vir staakdae is volgens Haimbili nie uitgesluit nie, maar dit sal “sensitief” benader word.
Volgens mnr. Noël Mouton, finansiële bestuurder, het verliese teen gister digby die N$15 miljoen beloop. Puma, die brandstofmaatskappy, en Voermeester het reeds aangedui dat hul dalk eise teen die karweier gaan instel.
|