26.02.2010 Soveel meer dalk te siene
DStv-kykers kan dalk binnekort soveel meer te siene kry, met MultiChoice wat die beeldsend van pornografie en die moontlike skepping van nuwe sekskanale op sy satellietbetaaltelevisiediens oorweeg.
Die afgelope maande is Multi- Choice glo oorval met kykersversoeke om pornografie op DStv uit te saai. Die staking van die Suid- Afrikaanse TV-diens e.tv se uitsending van laatnag-erotika het ook tot die versoeke bygedra. Die versoeke het aanleiding gegee tot ’n meningspeiling onder ’n beperkte aantal Suid-Afrikaners, almal ouer as 25.
Diegene wat nie belang gestel het in die opname nie, hoef nie daaraan deel te geneem het nie. Verskillende uitsaai-opsies word tans deur MultiChoice getoets, insluitend “gemengde pornografie”, wat behels harde pornografie tussen 21:00 en 05:00 en sagte pornografie tussen 05:00 en 21:00, of sagte pornografie 24 uur per dag.
MultiChoice het Republikein verseker dat in hierdie stadium nog net navorsing gedoen word en dat ’n finale besluit eers geneem sal word wanneer die navorsingsuitslae beskikbaar en die uitvoerbaarheid van so ’n kanaal vasgestel is.
Me. Claudia Blohm, skakelbeampte, sê MultiChoice ontvang baie navrae vanaf plaaslike DStvkykers betreffende die impak van pornografiese kanale op kinders.
“Een kyker het my spesifiek gevra in watter DStv-pakket die diens ingesluit sal wees sodat sy vroegtydig kan verhoed dat haar kinders daaraan blootgestel word. Ek het haar herinner dat nog niks finaal is nie, maar wanneer pornografiese kanale wel by DStv-pakkette ingesluit word, sal MultiChoice verseker dat al die nodige voorsorgmaatreëls getref is om jong kinders te verhoed om toegang tot dié kanale te hê,” vertel me. Blohm.
|