2.08.2010 Skoonmaak gaan begin
 Leerlinge van drie sekondêre skole neem aan ’n massaoptog na die landdroshof in Katutura deel om ’n versoekskrif aan die owerhede te oorhandig.
’n OMVATTENDE bosuitdunningsprojek word vandeesweek in Windhoek van stapel gestuur om die stad veiliger te maak vir veral skoolkinders en vroue.
Dit volg nadat die verkragting en moord van die 17-jarige Magdalena Stoffels verlede week skokgolwe deur die land gestuur het. Geen begrafnisreëlings vir Magdalena is nog bekend nie, maar ’n roudiens word Woensdag by die Hoërskool Dawid Bezuidenhout gehou.
Die stadspolisie, in samewerking met die Khomasdal gemeenskapforum, private kontrakteurs wat deur die munisipaliteit van Windhoek aangestel is, die Pastoreforum en lede van die gemeenskap begin vandag om 09:00 die Gammamsrivier skoonmaak in die omgewing naby die Hoërskool Dawid Bezuidenhout waar Magdalena se lewe verlede Dinsdag op grusame wyse beëindig is.
Nog inisiatiewe is aan die gang om met die skoonmaak van die hoofstad se rivierlope te help, met betrokkenheid van onder andere studente van die Universiteit van Namibië, die Raad van Kerke (CCN) en die Women’s Action for Development (WAD).
Uit Swakopmund berig Des Erasmus dat die moord op Magdalena Stoffels en alle vroue voor haar, vir oomblikke van stilte in die saal van Swakopmund se stadsraad gesorg het.
Raadslede en lede van die publiek het hul meegevoel betuig deur oomblikke in stille hulde te staan.
Die burgemeester, me. Germina Shitaleni, het die moord as afskuwelik bestempel. Die skoolmeisie is verlede week in Khomasdal eers verkrag en toe vermoor.
“Dit is ’n bewys van die siek wêreld waarin ons leef,” het me. Shitaleni gesê. “Die polisie verdien lof vir die wyse waarop ’n verdagte aangekeer is.
Barbaarse optrede soos die word deur die gemeenskap van Swakopmund verwerp. Ons harte bloei vir die familie van Magdalena en haar vriende. Die leerders en die onderwysers van Dawid Bezuidenhout deel in Swakopmund se meelewing.
“Ons bring hulde aan Magdalena en alle vroue wat voor haar so vermoor is.”
Vrydag het meer as 4 000 leerlinge en ander simpatiseerders in Windhoek deelgeneem aan ’n protesoptog vanaf die skool tot by die Katutura landdroshof om hul misnoeë met die sinnelose moord te betuig.
Die leerlinge het geskree “We want justice” en “No justice, no school” en gesê die moordenaar moet die doodstaf kry.
Die leerders het ’n versoekskrif aan die adjunk aanklaer-generaal, mnr. Johnny Truter, oorhandig. In die versoekskrif vereis die leerlinge dat in gebiede soos waar Magdalena gevind is, die gebied ontbos moet word om sodoende veiliger te wees.
Die leerlinge is sterk van mening dat daar vervoer vir leerlinge na en vanaf skool by sentrale punte moet wees. Die leerlinge het met Republikein se vorige besoek aan Dawid Bezuidenhout gesê dat hulle bereid sou wees om ’n gedeelte van die onkoste vir hierdie diens te dra. Die spesiale veldmag van die Namibiese polisie was in volle sterkte by die optog om die vrede te handhaaf.
 Meer en meer groepe voeg hulle daagliks by die groepie bejaarde vroue van Khomasdal om owerhede tot optrede te dwing om hul woongebiede veiliger te maak.
Klik op die foto om die fotogallery te vertoon. In die gallery sal jy na die volgende of die vorige foto's kan aanbeweeg deur in die linker- of die regterkant van die foto te klik. Alternatiewelik kan jy die sleutel "T" gebruik vir terug, "V" vir vorentoe of "M" om die fotovenster toe te maak.
|