Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


7 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

06.12.11

Polisieman, boer vertel van ongeluk

05.12.11

Vakansiepad open sy tol

05.12.11

Geen borg vir Susanne Hoff

09.12.11

Vir braaivleisvuur, is permit die kuur

07.12.11

Omkopery op lughawe

29.07.2010

Skok en troos uit alle oorde

© Theo Gurirab
Minister Pendukeni Iivula-Ithana (regs) betoon haar medelye aan die ouers van Magdalena Stoffels, mnr. Victor Ihuhua en sy vrou Magrieta, en nog ’n familielid, me. Dephnie Araës.

DIE gruweldood van Magdalena Stoffels het die harte van die hoogste politici tot die nederigste landsburgers geraak.

Die Minister van Justisie, me. Pendukeni Ivula-Ithana, het gisteraand in haar persoonlike hoedanigheid die ouers van die vermoorde skoolmeisie Magdalena Stoffels besoek om haar medelye te betuig.

“Ek is nie hier op ’n politieke platform nie, maar is regtig jammer oor wat gebeur het. Dat so ’n jong lewe met soveel potensiaal so gou beëindig moes word. Mense gaan deesdae nie meer kerk toe nie. Hulle moet terugkeer na hul Christelike beginsels,” het me. Ivula-Ithana gesê.

Sy sê in kerke leer mense die verskil tussen reg en verkeerd. Sy het ook gepleit dat mans hul lewenswyses verander en weer ware mans word.

Die Swapo Jeugliga het in sy reaksie ’n ernstige beroep op die Ministerie van Veiligheid en Sekuriteit gedoen om onmiddellik meer polisiepatrollies met fietse, voertuie en te voet in die stede, dorpe en nedersettings van die land te ontplooi ná die tragiese en grusame moord op Magdalena.

Die sekretaris vir onderwys, kultuur en die pionierbeweging van die Swapo Jeugliga, mnr. Natangue Ithete, het die moord ten sterkste veroordeel en gesê sulke omstandighede kan nie toegelaat word om so voort te gaan nie.

“Hoeveel keer het ons vroue nie om hulp uitgeroep en betoog nie? Wat is fout met ons Namibiese mans? Waarheen is hierdie land op pad? Hierdie onaanvaarbare optrede moet end kry,” sê mnr. Ithete in ’n verklaring.

Hy meen ook Namibië behoort bereid te wees om meer te betaal sodat wetstoepassers voldoende geldelike bronne het om misdaad op praktiese maniere te beveg.

Mnr. Ithete wil ook sien dat die skuldige openlik geïdentifiseer word en dat die wette wat kriminele beskerm, gewysig moet word.

Hy stel ook voor dat diegene wat Namibiese meisies skaad, aan enige ander land in die Suider- Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) uitgelewer moet word waar die doodstraf steeds van krag is.

Die Khomas-streek se uitvoerende komitee van die Rally for Democracy and Progress (RDP) asook die vroueliga en die jeugliga van die party het ook die voorval skerp veroordeel.

’n Gesamentlike verklaring van mnr. Sibuku Malumbano, sekretaris van die RDP Jeugliga, me. Francis Basson, sekretaris van die RDP Vroueliga, en me. Helena Nengola, die RDP se sekretaris vir die Khomas-streek, lui: “Ons sluit ons aan by die res van die land in die veroordeling van die wreedaardige menseslagting van die 17-jarige Magdalena Stoffels, ’n graad 11 leerling van die Hoërskool Dawid Bezuidenhout.

“Hierdie grusame en lafhartige daad het skokgolwe deur ons land gestuur. Ons staan verenig met die mense van Namibië in ons veroordeling van alle dade van geweld teen vroue en kinders en moedig die gemeenskap aan om kalm te bly en toe te laat dat geregtigheid sy koers neem in hierdie uiters emosionele tye. Ons wil ook ons meegevoel betuig aan die familie van Magdalena en wens hulle sterkte en Gods seën in hierdie moeilike tye toe.”

Die Swapo Vroueliga het eweneens in ’n verklaring gesê die partyvleuel het met misnoeë van die tragiese dood van die jong Namibiese meisie kennisgeneem.

In nog reaksie sê die vroueregtebeweging Sister Namibia dat Namibië die twyfelagtige eer het om derde op die wêreldranglys vir lande met die hoogste verkragtingsyfers te wees.

Die organisasie betreur dit dat ondanks die feit dat dit algemene kennis was dat die gebied waar die gruweldaad plaasgevind het, ’n nes vir misdaad is, niks daaraan gedoen is nie.

Namibië het heelwat gedoen sover wetgewing teen verkragting en geweld teen vroue betref, maar tog bied hierdie wette nie voldoende beskerming aan vroue en meisies nie en is dus nie doeltreffend nie.

“Magdalena se moord is ’n weerspieëling van ons samelewing en wat daarmee verkeerd is. Sy was ons verantwoordelikheid en ons het haar klaaglik gefaal. Hierdie ongelukkige voorval is almal se verantwoordelikheid en almal moet iets daaraan doen,” lui die verklaring.