
Lt.genl. Sebastian Ndeitunga
DIE polisie moes gister die hulp van MTC inroep om ’n geboeide vlugteling uit die Nasionale Jeugdiens se tentekamp by Berg Aukas te probeer opspoor.
“King Mandume,” een van die opstandige jeugdiges uit die vryheidstryd wat onlangs finaal deur die Kabinet toegang tot die halfwegstasie vir opleiding en werkskepping geweier is, is laat Maandag in boeie geslaan nadat hy hom teen polisiebeamptes verset het wat hom van die perseel moes verwyder.
Die vermoede bestaan dat hy intussen op een of ander wyse beseer is.
Teen gister kon niemand meer per selfoon met die jong man kontak maak nie.
Ses polisiebeamptes het volgens ’n inwoner van Berg Aukas vroeg gisteroggend saam met inwoners van die kamp Mandume se spoor gevat, maar moes blykbaar omstreeks 11:00 die soektog afgelas nadat sy spore in “diep bos” verdwyn het.
Volgens lt.genl. Sebastian Ndeitunga, hoof van die Namibiese polisie, het Mandume se spoor egter teen die hoofpad doodgeloop.
“Hy is nęrens te vinde nie,” het die Inspekteur-generaal gistermiddag gesę.
Aanvanklik het Mandume se spore volgens lt.genl. Ndeitunga net in sirkels binne in die kamp gelę. Geen bloed is by die spore gevind nie.
Teen gistermiddag is MTC volgens die polisiehoof versoek om met die seinrekord van sy seltorings te help om Mandume se bewegings verder na te spoor.
Op Oshakati was Golden Nendongo, aanvoerder van ’n groep van sowat 60 afvalliges wat die afgelope Vrydag uit die kamp geskop is, rasend bekommerd oor wat van Mandume geword het. “Ons het hom hier by ons nodig,” het hy gesę.