Só onthou Gobabis vir Johan Kotzé

VIR oudleerlinge van die Hoërskool Wennie du Plessis wat saam met die sogenaamde Modimolle Monster, mnr. Johan Kotzé, op skool was, kom die gruweldade waarop hy teregstaan as ?n groot skok.

Kotzé (50) verskyn op 17 klagte, insluitend die gedwonge groepverkragting en barbaarse aanrandings op sy gewese vrou, me. Ina Bonnette (42), asook die moord op haar 20-jarige seun, wyle mnr. Conrad Bonnette.

?n Oudleerling, mnr. Thinus Maritz, skryf uit Kaapstad dat hy in 1977 en 1978 op Gobabis gewoon het en gereeld by Kotzé se ouers, mnr. Jan en me. Dora Kotzé, sy jonger broer, Danie, en sy susters, Carina en Anita, op die plaas Vasbyt gekuier het.
Kotzé se ouers is reeds oorlede en sy broer Danie het in ?n motorfietsongeluk gesterf. Sy twee susters, me. Carina van de Venter en me. Anita Engelbrecht, woon onderskeidelik op Kimberley op Grabouw in die Wes-Kaap.

?Die kere wat ons op die plaas was, kon ek geen fout sien nie. Ek sou dink sy pa, ?n boer, was soos enige ander pa. Sy ma se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en sy het baie lekker kos gemaak. In die huis self was niks kort nie. Anita, die jongste dogter, het selfs ?n nuwe Lowry-orrel gehad,? skryf Maritz.

?Sover ek kan onthou, was hy (Kotzé) beslis aangeneem. Ek kan egter nie onthou dat na probleme verwys was nie.?

Op die Facebook-blad van die Hoërskool Wennie du Plessis gons dit met meer as 40 reaksies van oudleerlinge. ?Sy kop het hom gelos. Mal verby. Ek kry sy twee sussies en familie jammer. Ek as oud-Wennie Dup?er voel skaam. Hoe moet hulle nie voel nie? Mag reg en geregtigheid sy pad neem en hom vir ewig uit die samelewing wegneem,? skryf me. Rosemarie Swart.
Sy raak later meer simpatiek en skryf aan sy susters om hul koppe op te lig. ?Kyk almal vierkantig in die oë. Julle het niks verkeerd gedoen nie.?

Me. Helet Malherbe kry ook sy familie jammer. ?Hy was in ?n stadium saam met ons (op skool), maar het st. 9 gedruip.?

Mnr. Herman Strauss beaam ook dat hy ?n jaar gedruip het: ?Exhaust (Kotzé se bynaam op Gobabis) was saam met ons, maar het ?n jaar agter geraak.?

Kotzé se suster, me. Carina van de Venter, spreek haar dank vir die ondersteuning op die blad uit: ?Baie dankie julle, ons het jul gebede bitter nodig. Ons het nie vir hierdie situasie gevra nie. Niemand wat self in sulke omstandighede is, sal weet wat dit is om daar te wees nie en die slegste van alles is dat ?n mens absoluut geen beheer daaroor het nie,? skryf sy.

?Baie van my vriende en familie het vir my gesê dat daar ?n doel is met alles in die lewe. Ek wonder al die hele tyd wat die doel hiervan is. Sal seker nog die antwoord kry.?

Alle oud-Wennie Dup?ers is egter nie so simpatiek nie. Me. Joey van der Walt skryf: ?Nadat ek gelees het wat hy werklik aan sy vervreemde vrou gedoen het en voordat ek nog besef het dat hy ?n boorling van ons geweste is, kan ek steeds nie oor die geweldige skok van sy grudade kom nie. Niks kan hierdie barbaarse gedrag van hom regverdig nie. Ek is jammer, maar ek het geen simpatie met hom nie.?

Sy meen dat as hy geestelik siek is, moes iemand tog seker gemaak het dat hy hulp kry. ?Ek kry sy familie en ouers jammer, maar terselfdertyd dink ek dat hulle tog bewus moes wees van sy geestelike versteuring en nie genoeg gedoen het om hom uit die beskawing te verwyder het nie. Miskien is dit makliker vir sy ouers en familie om hom lief te hê. Die enigste gevoel wat ek tans jeens hom voel, is vrees.?

?n Destydse organiseerder van die DTA op Gobabis vertel dat Kotzé in die sewentigerjare deel van ?n groep kwajongens was wat glo die vensters van DTA-kantoor op die dorp met klippe uitgegooi het. Die voorval het geskied op dieselfde dag wat mnr. Dirk Mudge as destydse DTA-leier ?n vergadering op die dorp sou toespreek. Die DTA het glo besluit om nie die kwajongens te vervolg nie aangesien hulle minderjarig was, maar die party het wel ?n verskoning van hulle geëis. Kotzé het glo geweier om verskoning te vra.

? Nog twee van die vermeende verkragters het Maandagoggend vlugtig in die landdroshof op Modimolle verskyn. Hulle word glo verbind met die beweerde groepverkragting van me. Bonnette. Die twee mans, onderskeidelik 34 en 38 jaar oud, sal saam met Kotzé en ?n 42-jarige man op 10 Februarie in die hof verskyn.

Hulle sal ook op 17 klagte tereg staan, insluitend sewe klagte van verkragting, moord, aanranding, menseroof, seksuele aanranding, seksuele aanranding met die doel om ernstig te beseer en sameswering tot verkragting. Al vier mans staan ook tereg weens poging tot moord, die rig van ?n vuurwapen, roof en diefstal.

Al vier beskuldigdes bly in aanhouding.

Kategorie: