10.03.2010 Riviere bruis by meetstasies
 Terwyl die Zambezirivier die ses meter watervlak by die Katima Mulilo-meetstasie oorskry het en 41 cm hoër is as verlede jaar dieselfde tyd, het die massas water wat verlede week uit die Hardapdam by Mariental gelaat is, die naweek die samevloei van die Löwen- en die Visrivier bereik. Die lesing van die Visrivier by /Ai/Ais was gister 1,21 meter ná dit 15 cm gesak het sedert ’n lesing Maandag geneem is.
DIE Zambezirivier het die ses meter watervlak by die Katima Mulilo-meetstasie oorskry en is tans 41 cm hoër as verlede jaar dieselfde tyd.
Reën het afgeneem die afgelope paar dae, met die hoogste aangetekende syfer van 0.8 mm op Otjiwarongo gisteroggend en die Visrivier het by die /Ai/Ais-meetstasie weer lewe gekry.
Ondanks die afname van reën in die land, hou die vlakke van die Zambezirivier by die Katima Mulilo-meetstasie, asook die Okavangorivier by die Rundumeetstasie aan om te styg. Die Zambezi het gister op 6.15 m gestaan – ’n styging van 16 cm sedert die vorige dag.
Die meetstasie het verlede jaar dieselfde tyd ’n vlak van 5.74 m aangedui en volgens die verslag is die rivier steeds besig om te styg.
Terselfdertyd is die Okavangorivier besig om by die Rundumeetstasie die sewe meter merk te bereik, met ’n vlak van 6.89 m water wat gisteroggend aangeteken is. Dit is ’n styging van 25 cm sedert Maandag.
Die vlak is egter steeds laer as die van verlede jaar dieselfde tyd, toe dit op 7.41 m gestaan het. As gevolg van die water wat verlede week uit die Hardapdam gelaat is, het lewe weer in die Visrivier ontstaan, toe die /Ai/Ais-meetstasie Sondagaand ’n oornagstyging van meer as een meter aangedui het.
Die meetstasie het Maandagoggend ’n vlak van 1.36 m aangedui – ’n styging van 1.14 m sedert die vorige dag, maar dit het gisteroggend ’n vlak van 1.21 m aangedui.
Reënval het ook drasties afgeneem in die Cuvelai-gebied, met die hoogste neerslag van 0.4 mm wat gisteroggend by Onayena aangeteken is.
Die weerkantoor verwag net moontlike ligte reënval in die Noorde. Vir die res van die land word geen reën voorspel nie.
Francios Olivier
|