15.03.2010 Ritssluiter toegetrek vir pornografie
DIE ritssluiter is vir eers toegetrek oor die moontlikheid dat MultiChoice pornografie gaan beeldsend. Volgens Nuus24 se webblad het MultiChoice besluit teen pornografie en die moontlikheid van nuwe sekskanale op DStv se satelliet-betaaltelevisiediens.
Verskeie kerk- en gesinsgroepe het sedert einde verlede maand skerp gereageer op dié maatskappy se aankondiging dat hy dit oorweeg om pornografiese kanale in te stel.
MultiChoice het vroeër bekend gemaak dat hy navorsingsdata hersien het van ’n intekenaarspeiling om te bepaal wat kykers dink oor beeldmateriaal vir volwassenes op betaal-TV-kanale.
Volgens ’n verklaring het die navorsing getoon “’n beduidende persentasie intekenaars is gekant teen volwasse kanale, terwyl sommige nie omgee nie en ’n ander beduidende persentasie positief is”.
Mnr. Nolo Letele, uitvoerende hoof van MultiChoice in Suid-Afrika, het gesê dit is jammer dat mense die navorsing vertolk het asof ’n besluit reeds geneem is.
“MultiChoice doen gereeld navorsing om kykers se smaak te toets, sowel as hul indrukke van bestaande en nuwe televisiekanale. Só kan ons kliëntediens verbeter.”
Volgens hom sluit dié navorsing dikwels vrae in wat handel oor inhoud wat kliënte aangevra het, of kanale wat oorsee goed vaar. “Die peiling drie weke gelede het gefokus op volwasse inhoud aangesien mededinging in ons bedryf eersdaags in Suid-Afrika bekend gestel word.”
|