8.02.2012 Reën ontwortel 16 huishoudings
 Inwoners van die verspoelde Kasote-nedersetting voor ’n haarsalon.
INWONERS van die Kasote-nedersetting wes van Rundu moes hul wonings as gevolg van swaar reën verlaat.
Die adjunkburgemeester van Rundu, mnr. Bonny Kahare, het gesê 16 huishoudings is geraak waarvan drie “dringend hulp nodig het”. Hy het gesê tente is oorkant die Universiteit van Namibië se kampus op die dorp opgeslaan en die mense word voorlopig daar hervestig. Kahare het voorts gesê die dorpsraad het ʼn noodvergadering vir vandag belê om te besluit hoe hulle die situasie gaan beredder.
Volgens die jongste reënvalsyfers het van die meeste reën in die Suide geval by Mariental en by die Visrivierspoelvallei, waar 16 mm en 26,2 mm onderskeidelik aangeteken is.
Volgens die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou se hidrologiese afdeling het ligte tot matige reën oral in Namibië geval met van die hoër syfers wat in die Suide gerapporteer is.
Me. Brenda Kotze wat in die Aroab-omgewing boer, het gesê die reënval is baie vreemd vanjaar, want dit reën plek-plek. “Een buurman sal 22 mm ontvang en dan kry die ander net 2 mm.” Sy is van mening dit gaan reën, want “die wolke is in die lug en dit lyk belowend”.
Die bewolkte toestande in die land veroorsaak ook dat die maksimum temperature in die lae dertig grade of hoë twintig grade Celsius is.
Die dorp wat die meeste reën ontvang het, is Gobabis wat 25,6 mm ontvang het.
Ander dorpe waar meer as 5 mm aangeteken is, is Otjiwarongo met 22,6 mm, Omuthiya met 14,6 mm en Omaruru waar 9,6 mm geval het.
|