2.09.2010 Rehobothers staak oor kontantkrisis
DIE grootste deel van Rehoboth se sowat 160 dorpsamptenare het gisteroggend vir enkele ure hul arbeid van die omstrede munisipaliteit onttrek nadat daar glo nie genoeg dollars in die geldkas was om hulle op tyd te betaal nie. Salarisse is uiteindelik tussen 11:00 en 12:00 betaal.
’n Massiewe waterafsny-operasie het volgens die hoof uitvoerende beampte, mnr. Theo Jankowski, teen maandeinde groot geld uit inwoners en besighede se sakke laat inrol. Volgens hom het die munisipaliteit, wat na verneem word met N$1,4 miljoen by die bank in die skuld is, nie nog geld geleen om sy verpligtinge teenoor werkers na te kom nie.
Senior lede van die dorpsraad en -bestuur wat handelsfees op Ongwediva gaan hou het, is Dinsdag lelik deur galbitter amptenare uitgejou. Toelae vir die kuiertjie is voor hul vertrek uitbetaal en beloop glo sowat N$10 000. Wanbetalers en selfs onskuldige inwoners se water is links en regs afgesny om die dorp se kontantvloei reg te ruk. Uitstaande diensgelde beloop ’n hele paar miljoen dollar.
“Die mense baklei. En soos hulle baklei, soek hulle sente…” het een ontstoke amptenaar aan Republikein gesê.
“So iets het nog nooit gebeur nie,” het ’n ander gemor.
“Ek is nie verantwoordelik vir salarisse nie,” was al wat mnr. Jeffrey Kasupi, munisipale segsman, Dinsdag wou sê.
“Ek het self ook nie ‘gepay’ nie,” het hy benadruk.
Volgens mnr. Chris Klazen, die dorp se finansiële bestuurder, is dit egter glad nie ’n kwessie dat Rehoboth se geldkas leeg is nie.
“Ek is bloot keelvol vir die geswoeg en sweet om skuld in te vorder,” het hy verduidelik.
“Ek het al alles probeer met dié Basters. Selfs amnestie het nie gewerk nie,” het hy sy voet dwars gesit.
“Mense dink mos Rehoboth is ’n paradys.”
“Daar is maar sulke administratiewe foutjies,” het hy gesê oor die feit dat sommige onskuldiges se krane toegedraai is.
“Sodra ons ingelig word, probeer ons nog dieselfde dag weer die water aansluit,” het mnr. Klazen verseker.
“Dit is wragtig die eerste wat ek hiervan hoor. Eerlikwaar,” het mnr. Jankowski aanvanklik laat Dinsdag gesê.
“Die 31ste is nog nie verby nie,” het hy wal gegooi.
“Ek is as hoof uitvoerende beampte uitgenooi,” het mnr. Jankowski oor sy, die burgemeester en nog twee mense se besoek aan die Verre Noorde se handelskou gesê.
Die uitstappie het glo sowat N$10 000 gekos.
“Daar was ’n resolusie. Daar is vaste voorskrifte oor toelae,” het mnr. Jankowski benadruk.
|