23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.01.2012

Rehobothers betoog weer

© Tammy Kleinhans
Mnr. Johannes Khaxab lees die petisie waarin sommige inwoners van Rehoboth duidelikheid vra oor die verwydering van mnr. Bartholomeus (Pietertjie) Pieters en hulle op sy heraanstelling op die dorpsraad aandring.

’n GROEP van vyf mense het laat Dinsdagmiddag by Rehoboth se dorpsraadkantoor met kieries en stokke opgedaag en het hulle volgens een weergawe soos “barbare” gedra.

Mnr. Theo Jankowski, die dorp se hoof uitvoerende beampte, sê omstreeks 16:20 het ’n groep van vyf mense met kieries en stokke by die kantoor opgedaag. Hy en mnr. Willie Swartz, die dorpsraad se menslike hulpbronbestuurder, was besig en het op ’n bank gesit. Volgens Jankowski was die groep in ’n aanvallende bui en het vir hom en Swartz met geweld gedreig. Een van die vroue wat by was, het ’n stok gehad en het ’n hou langs Swartz op die bank geslaan.

Nadat Swartz opgestaan het, het iemand die bank waarop Jankowski gesit het, opgelig en hom probeer afgooi. Hy nie seergekry nie danksy iemand wat hom betyds gevang het.

Toe hy tot verhaal kom en vra waar Swartz is, is hy meegedeel dat hy reeds op pad na die polisiekantoor was. Die groep het Swartz daar aangetref en glo verder gedreig. Hy het glo sy vuurwapen uitgehaal omdat hy gemeen het hy was in gevaar, maar het dit nie op iemand gerig nie.

Jankowski was ook polisiekantoor toe om ’n klag te gaan lê.

Die groep betogers is Maandag in kennis gestel dat hul optog onwettig is, maar hulle het Woensdag opnuut betoog nadat hulle die polisie genoegsame kennis gegee het. Hulle het ’n petisie aan Jankowski oorhandig waarin hulle op die heraanstelling van mnr. Bartholomeus (Pietertjie) Pieters tot die dorpsraad aandring. Die betogers het die dorpsraad sewe dae gegee om aan hul vereistes te voldoen.

Die betogers het dit duidelik gestel dat die optog nie handel oor die water wat afgesny is nie.

Volgens die betogers is die redes vir Pieters se afdanking nie aan hulle bekend nie en Pieters het by ’n gemeenskapsvergadering verlede Sondag gesê hy het geen brief van enigeen ontvang waarin sy oortredings uiteengesit word nie. Hy het ook glo geen ontslagbrief gekry nie. Luidens die petisie was die gemeenskap nie ingelig oor Pieters se ontslag nie en die verantwoordelike mense wat dit uitgevoer het, het nagelaat om die redes aan hom te verduidelik.

Mnr. Johannes Khaxab, wat opnuut die betogers se petisie voorgelees het, het ook gesê Pieters het geen verhoor bygewoon of is aan geen oortreding skuldig bevind nie, dus is dit onduidelik hoekom hy van sy pos onthef is.

Jankowski het gesê die afsny van inwoners se water was die begin van die onmin. Die leiers van die groep betogers se rekeninge is nie betaal nie en hulle weier om die meterlesers op hul erwe toe te laat.

Nadat een meterleser glo aangerand is, versoek die dorpsraad nou die hulp van die polisie, want dit het gevaarlik geword om meterlesers na die huise te stuur.

Mnr. Eduard Wambo, Rehobothstreekraadslid, het gesê Pieters was ’n politieke aanstelling en dit was sy eie party wat hom van sy pos onthef het. Hy en Jankowski is eens dat die groep betogers wat ook lede van ander politieke partye bevat, hul besware eerder na Swapo moet neem. Jankowski beskik ook oor ’n brief waarin die Swapo-distrikkoördineerders vir Rehoboth-Wes en -Oos hom opdrag gee om Peter van sy pos te onthef.

Wambo het gesê ’n vergadering sal Sondag om 15:00 by die Oanob-saal gehou word waar Pieters se ontslag bespreek sal word. Pieters het gesê hy sal graag tydens die vergadering Sondag ’n spreekbeurt wou hê om sy kant van die saak te stel. Hy het ook gesê as die gemeenskap hom op die dorpsraad wil terug hê en hy kan terugkeer, sal hy dit doen, maar hy het reeds vrede met sy ontslag gemaak. Op die vergadering sal Wambo ook antwoord op die petisie wat vir sý ontslag vra.