1.09.2010 Reho se geldkas skop droog
REHOBOTH se sowat 160 platsak dorpsamptenare is galbitter oor die polities veelal omstrede munisipaliteit se onvermoë om hul salarisse op datum te betaal.
Teen vanoggend was mense se geld nog nie in die bank nie.
’n Noodvergadering is belê met tegniese personeel, wat saam met groot getalle ander werknemers geweier het om vandag aan diens te gaan.
Lede van die dorpsraad en –bestuur wat sedert die naweek handelsfees op Ongwediva hou, is gister lelik uitgejou. Toelae vir die kuiertjie is glo al voor hul vertrek uitbetaal en beloop ’n paar duisend dollar per kop.
Na bewering is wanbetalers en selfs onskuldige inwoners se water gister links en regs afgesny om die dorp se kontantvloei reg te ruk. Uitstaande diensgelde beloop ’n hele paar miljoen.
“Ons is baie kwaad,” het een amptenaar gekook ná iemand alarm by Republikein gemaak het.
“Dit is ’n deurmekaar affêre,” is die wortel van die kwaad uit ’n ander oord bevestig. “Die mense baklei. En soos hulle baklei, soek hulle sente…”
“So iets het nog nooit gebeur nie,” het nog ’n beswaarde amptenaar gemor.
“Ek is nie verantwoordelik vir salarisse nie,” was mnr. Jeffrey Kasupi, munisipale segsman, se reaksie. Ek het self ook nie ‘gepay’ nie.”
“Hy (Rehoboth) is in opstand,” het mnr. Chris Klazen, die dorp se finansiële bestuurder, die oproer erken.
Volgens hom is dit egter glad nie ‘n kwessie dat daar nie geld is nie.
“Ek is bloot keelvol vir die geswoeg en sweet om skuld in te vorder,” het hy verduidelik. “Ek het al alles probeer met dié Basters. Selfs amnestie (vir wanbetalers) het nie gewerk nie,” het mnr. Klazen sy voet dwars gesit. “Maar mense dink Rehoboth is ’n paradys met 18 maande en langer om jou sak te skud.”
Volgens mnr. Klazen is skuld vir elektrisiteit nie juis ’n probleem nie omdat die meeste mense vooruit vir hul krag betaal. Water, riool, vullisverwydering en erfbelasting is egter ’n liederlike storie.
“Daar is maar sulke administratiewe foutjies,” het hy gesê oor die feit dat selfs inwoners sonder skuld se krane glo toegedraai is. “Sodra ons ingelig word, probeer ons nog dieselfde dag weer die water aansluit,” het mnr. Klazen verseker.
“Dit is wragtig die eerste wat ek hiervan hoor. Eerlikwaar,” het mnr. Theo Jankowski, onlangs heraangestel as hoof uitvoerende beampte, laatmiddag gesê.
Volgens hom was hy reeds terug by die huis, maar siek. “Ek het nog nie ’n draai by die bank gaan maak nie,” het mnr. Jankowski gesê.
“Dit is nog eintlik veilig,” het hy oor die laat salarisse wal gegooi. “Die 31ste is nog nie verby nie.
“Ek is as hoof uitvoerende beampte uitgenooi,” het mnr. Jankowski oor sy, die burgemeester en nog twee persone se besoek aan die Verre Noorde se handelsfees gesê. “Daar was ’n resolusie. Daar’s vaste voorskrifte oor toelae,” het hy benadruk.
|