23.01.2012 Porno-kanale in weegskaal
DIEGENE wat uitgesien het na die drie kaalbaskanale wat in Januarie in die land beskikbaar moes wees, gaan eers vir goedkeuring moet wag.
Die hooggeregshof in Johannesburg het verlede week beslis dat TopTV geen pornografiese kanale sonder die toestemming van die Onafhanklike Kommunikasie- owerheid van Suid-Afrika (Icasa) mag uitsaai nie.
Volgens ʼn berig in Beeld het TopTv, wat deur On Digital Media (ODM) besit word, reeds in September verlede jaar aansoek gedoen om pornografie oor drie kanale te saai.
Toe TopTV na twee maande geen antwoord ontvang het nie, het dit besluit om sonder Icasa se besluit voort te gaan, lui die berig.
Icasa het ʼn dringende aansoek by die hof ingedien sodat die saak tot 31 Januarie uitgestel kan word, wanneer hulle ʼn finale antwoord sal hę.
Die Kommunikasie Reguleringsowerheid van Namibië (CRAN) het nog geen terugvoer aan Republlikein gegee of TopTV vir ʼn lisensie aansoek gedoen het om hierdie drie pornografie- kanale ook plaaslik in te span nie.
Beeld het berig dat die uitvoerende hoof van TopTV, mnr. Vino Govender, met die bekendstelling in Mei 2010, dit nie as deel van hul sakeplan sien om pornografiese materiaal uit te saai nie.
Luidens die berig het Govender gesę: Ons bestuur ons besigheid met sterk Christelike etiese kodes en ons beplan nie om n pornografiese kanaal bekend te stel nie. Ons wil nie miljoene Suid-Afrikaanse kinders se breine vergiftig nie.
Volgens die berig in Beeld het die onderneming in September verlede jaar ʼn ooreenkoms met Playboy TV UK/Benelux aangegaan om drie kanale, Adult XXX, Private Spice en Playboy Europe, vir pornografie uit te sonder.
ODM het in ʼn verklaring gesę dat pornografie onskadelik is. TopTV vra nie om verskoning vir die feit dat hy aan diegene wat volwasse inhoud op televisie wil kyk, toegang daartoe wil gee nie, lui die berig.
Luidens die berig het die verklaring uitgelig dat pornografie nie net onskadelik is nie, maar dit verminder ook die aantal seksmisdrywe in gemeenskappe en in lande waar mense gratis toegang daartoe het.
Mnr. Marius Liebenberg, senior adjunkhoof van verkope en bemarking, het gesę die betaaloperateur neem in ag dat diegene wat teen die nuwe kanale gekant is, in die minderheid is.
|