23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.08.2010

Politieke diskriminasie

© Republikein
Mnr. Nghishiiko Joshua Nghishiiko
DIE regerende party se ongeskrewe “beleid” waarvolgens noodsaaklike dienste aan lede van die opposisie geweier moet word, het die naweek in die Ogongo-kiesafdeling van die Omusati-streek ’n werklikheid geword toe ’n vergadering van Swapo-gesinde sakelui na bewering besluit het dat die plaaslike RDP-koördineerder, mnr. Nghishiiko Joshua Nghishiiko, voortaan nie toegelaat sal word om by plaaslike sjebeens enige item te koop nie.

Die omstrede “beleid” wat gedurende die 2009-verkiesingsveldtog herhaaldelik verkondig is, vereis ’n boikot van alle besighede waarvan die eienaars die RDP ondersteun, asook die weerhouding van noodsaaklike dienste aan lede van die opposisie.

Bekende Swapo-aktiviste, sakeman Maurus Valombola en ’n voormalige streekraadslid van Grootfontein, mnr. Fidelis Sheyapo, het glo aan die spits gestaan van Saterdag se vergadering by Okeeke.

“Ek was gedurende die dag by Outapi, maar op pad huis toe het ek Okeeke aangedoen om iets te koop. Tot my verbasing het een na die ander sjebeenassistent geweier om my te help. ’n Swapovergadering het blykbaar ’n besluit geneem wat deur alle sjebeeneienaars toegepas moet word,” het mnr. Nghishiiko gesê.

Hy is tydens die vergadering glo daarvan beskuldig dat hy die nedersetting se naam “bevuil”.

Mnr. Maurus Valombola het by navraag ontken dat hy so ’n vergadering gereël of bygewoon het.

“Ek het Saterdag geen vergadering bygewoon nie en ek het ook nie van so ’n vergadering gehoor nie. Ek weet nie waarvan mnr. Nghishiiko praat nie,” het hy gesê.

Mnr. Valombola het aan Republikein gesê hy ken mnr. Nghishiiko “as ’n seun van die omgewing”.

Hy het egter sy ontevredenheid uitgespreek oor die “aggressiewe” wyse waarop mnr. Nghishiiko lede vir die RDP werf.

“Hy besoek ander mense se huise terwyl hy RDP-klere dra, wel wetend dat die huisbewoners nie sy party ondersteun nie,” het mnr. Valombola gesê.

Mnr. Valombola het mnr. Nghishiiko daarvan beskuldig dat hy besig is om die huidige vrede te versteur.

“Ons het ook ons partye, maar ons gaan nie na ander partye se ondersteuners se huise nie.

“Mnr. Nghishiiko het onlangs selfs die huis van ’n Swapo-takvoorsitter besoek,” het mnr. Valombola gekla.

“Ja, dit is waar,” sê mnr. Nghishiiko.

“Ek het mnr. David Muzanima se huis besoek om met hom oor die RDP te praat. Ek het hom een maal by ’n opposisie-byeenkoms gesien en ek het nie geweet hy is ’n Swapo-takvoorsitter nie.”

Intussen het die “eenparige besluit” om mnr. Nghishiiko noodsaaklike dienste te ontsê, net Saterdag en Sondag geduur.

Sjebeeneienaars het Maandag die verbod verontagsaam en mnr. Nghishiiko was weer vry om enigiets te koop.

Nadat koeldrank aan hom verkoop is, het Republikein ’n sjebeenassistent gevra hoekom sy die verbod ignoreer.

“My werk is om te verkoop ongeag wie die klant is,” was die antwoord.