
Lt.genl. Sebastian Ndeitunga
DIE Namibiese polisie was gisternamiddag terug op Berg Aukas om nog twee beweerde opstandige jeugdiges uit die vryheidstryd uit die kamp te verwyder ná Vrydag se massaoperasie waartydens sowat sestig van dié jongmense in opdrag van die Kabinet finaal uit die kamp gesit is.
Die nadraai van dié opvolgbesoek was teen saktyd onbekend hoewel die hoof van die Namibiese polisie, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, ernstig bekommerd was oor die inligting dat ene King Mandume ernstig beseerd iewers in die bos gelê het nadat hy in boeie geslaan is.
Republikein is eers baie laat gister deur die leier van die jeugdiges wat nou op die terrein van ’n vloedkamp in Oshakati staan, Golden Nendongo, oor die drama ingelig.
“Ek is in die bos,” het Mandume oor sy selfoon gesê toe die koerant hom self gebel het. Hy was hoorbaar uitasem en onsamehangend.
“Ek is beseer. Ek is gewond,” het Mandume geprewel.
Ná oproepe aan drie verskillende inspekteurs het ene hoofinspekteur Jarson bloot gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.”
Genl. Ndeitunga was hoorbaar ontsteld toe hy van ’n hernude besoek aan Berg Aukas verneem het. “Hulle was veronderstel om my in te lig. My genade!”
Nadat die polisiehoof persoonlik vir Mandume op sy selfoon gebel het, het hy gesê: “Hy praat nie eers nie. Ek hoor net diep asemhaling. Dit klink of hy ernstig beseer is.”
Genl. Ndeitunga het bevestig dat die polisie opnuut na Berg Aukas ontbied is nadat twee van die jongmense wat op die Kabinet se uitsmytlys was, maar die naweek met verlof uit die kamp weg was, gistermiddag na die kamp teruggekeer het.
Een van die jongmense in die kamp het gesê drie polisiebeamptes is gistermiddag deur die weermag ontbied om die twee te kom haal.
“Ons weet nie waar Mandume nou is nie.”
Aanvanklik is gesê dat die polisie op Mandume geskiet het toe hy, boeie en al, op die vlug geslaan het. Dit is egter onmiddellik weer ontken.
Volgens genl. Ndeitunga is die twee jeugdiges na die kampbevelvoerder, kol. Nestor Shalauda, se hoofkwartier geneem om te verduidelik hoekom hulle nie meer in die kamp welkom is nie.
“Een van hulle het gewelddadig geraak,” het die polisiehoof gesê. Hy is volgens genl. Ndeitunga in boeie geslaan en na sy tent geneem om sy besittings op te pak.
“Hy het in die bosse in weggehardloop.”
Volgens die polisiehoof is daar beslis nie op Mandume geskiet nie. Genl. Ndeitunga het gesê daar is tot sononder na die jongman gesoek. Hy het onderneem om vanoggend lede van die reserwemag te ontplooi om Mandume te vind.
Nendongo en sy makkers het gister vasgestaan op hul nuwe plakplek buite Oshakati ondanks planne om opnuut protes by die owerhede in Oshakati aan te teken.