23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

20.01.2012

Perde wreed mishandel

© Verskaf
So het die perde gister op die sleepwa gelê met hul aankoms op Okahandja. Die diere het mekaar vertrap en verskeie kneus- en skaafwonde opgedoen. Die sleepwa is glad nie geskik vir die vervoer van perde nie en volgens kenners kan hoogstens twee perde op hierdie grootte sleepwa vervoer word as dit dan moet.

PERDE-eienaars en -liefhebbers is gister met afgryse vervul toe ses ontwaterde perde en een vul met veelvuldige beserings op ’n sleepwa by die Reitklub op Okahandja aangekom het.

Volgens inligting was die eienaar van die perde met die diere vanuit die Karasburg-omgewing na die Verre Noorde onderweg en het hy op Okahandja by die Reitklub gestop om die diere wat op die sleepwa gelê het en nie kon opstaan nie, af te laai en weer op die sleepwa te laai.

Een van die werkers by die perdestalle het opgemerk dat die diere beseer is en hy het die hulp van die perde-eienaars by die Reitklub ontbied.
© Ruhan Bothma
Die merrie het erge swelling bo haar oog en skaafwonde tydens die tog vanaf die Karasburg-omgewing opgedoen.
Die perde het op ’n sleepwa wat glad nie vir hul vervoer geskik is nie, gelê met een perd wat nog tussen die lêendes gestaan het.

Een van die helpers het gesê dat hy stampgeluide gehoor het vanuit die agterkant van die bakkie wat die sleepwa gesleep het. By nadere ondersoek het hulle ’n jong vulletjie daar opgemerk waarvan die pote oorkruis vasgebind was.

Die vulletjie is dadelik van die bakkie se bak gelaai en die toue is losgesny. Die vul het swelling aan sy bene opgedoen, maar met hulp het hy weer begin rondbeweeg. Hy is deur die helpers bokmelk gegee om te drink.
© Ruhan Bothma

Een van die merries op die sleepwa het veelvuldige beserings opgedoen wat ernstige skaaf- en trapwonde en ’n geskeurde onderlip insluit. Sy het ook ernstige swelling bo haar regteroog.

Die merrie kon glad nie staan toe sy van die sleepwa afgelaai is nie en ná byna ’n halfuur se sukkel het van die helpers die perd opgehelp. Die merrie is ook die ma van die genoemde vul.

Die voshings wat ook erge skaafwonde opgedoen het, is ook behandel.

Die ander vier perde het mindere beserings tydens die tog opgedoen.

Volgens een werker was die perde-eienaar aanvallend toe hulle hom oor die toestand van die diere konfronteer en het hy gesê dat die diere aan hom behoort en dat hy met hulle sal maak soos hy wil.

Die helper het gesê dit was verstommend dat die sleepwa met perde deur verskeie padblokkades gereis het sonder dat hulle voorgekeer is, terwyl die beamptes moes gesien het in watter toestand die diere verkeer.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) van Windhoek is ook na Okahandja ontbied en hulle het ’n veearts saamgeneem om die beseerde perde te behandel.

Die veearts, dr. Bernard Chiwome, het gesê die diere het talle snye en kneuswonde opgedoen en dat sommige erg gebloei het.

Hy het genoem dat ná die behandeling die perde genoeg rus en water moet kry en dat hy hulle sal monitor, maar dat hulle almal behoort te oorleef ná die ontbering waardeur hulle gegaan het.


© Ruhan Bothma

Bloedmonsters is geneem om die perde vir Afrika-perdesiekte en ander siektes te toets.

Me. Hillary du Plessis van die DBV het gister gesê die perde sal gekonfiskeer word en sodra hulle sterk genoeg is, na Windhoek vir veilige bewaring en versorging gebring word.

Die eienaar van die perde verskyn vandag in die landdroshof op Okahandja nadat ’n klag van dieremishandeling teen hom gelê is.

Ruhan Bothma op Okahandja