
Padboukontrakteurs wat besig was om ’n brug by Ouhongo in die Omafo-Ongenga-pad te bou, het Maandag die toneel verlaat nadat een van die werkers deur ’n padgebruiker aangerand is en ’n paar geweerskote geklap het. Volgens die polisie se woordvoerder in die Ohangwena-streek, sersant Kaume Itumba, was ’n man besig om verkeerstekens te verwyder wat voor die brug geplaas is om rigtings aan te dui, toe hy deur die werkers gekonfronteer is. Die man het glo ’n werker aangerand, die toneel verlaat en later met ’n geweer teruggekeer om ’n paar skote in te lug af te vuur, enkele meter van die brug af. Die werkers het uit vrees hul goed gepak en die toneel verlaat sonder om met die werk voort te gaan. Sersant Itumba het bevestig dat ’n klag by die polisie aanhangig gemaak is en dat ’n inhegtenisneming enige tyd verwag word.