
Die 10-jarige seuntjie, veilig en versorg op sy ouma Paulina se skoot, maar vir hoe lank?
DIE regte van pa’s en die staat se burokratiese rompslomp en voetesleep om kinders onmiddellik uit die kloue van verwaarlosing te red, is op die voorgrond gedwing met ’n pa wat by die polisie om hulp moes aanklop om alleentoesig oor sy seun te kry. Die lot van die seun se halfboetie en -sussie is egter nog duister.
Mnr. Williebard Hangara het Vrydag ’n amptelike dokument van die Vroue- en Kinderbeskermingseenheid verkry waarvolgens hy toestemming het om tot môre die halfboetie en -sussie in sy ma, Paulina, se sorg te hou.
Wat ná môre gebeur, weet hy nie. Sy tienjarige seun is Saterdag weer deur sy seun se ander ouma by ouma Paulina kom wegneem.
“Wanneer gaan die Regering my help – wanneer my kind en die ander dood is?”
Hangara het Donderdag sy seun uit die kind se ma se huis gaan verwyder, nadat sy weke later steeds versuim het om hom terug te bring en skool toe te stuur soos afgespreek is.
Benewens die seun het Hangara ook nog twee kinders, ’n 19-maande oue halfboetie en ’n driejarige halfsussie, saam met hom gevat. Die klein seuntjie is onmiddellik deur Hangara se ma, Paulina, hospitaal toe geneem waar hy vir koors, braking, diarree en erge ooginfeksie behandel moes word. Nog ’n 14-jarige meisie is ook deur Hangara en sy ma na haar huis geneem. Die meisie is na bewering deur volwassenes seksueel misbruik.
Met Republikein se besoek Vrydag aan ouma Paulina se huis, was die twee kleintjies en die ouer meisie goed versorg en netjies aangetrek. Die ouer meisie het laat blyk dat sy nooit weer wil teruggaan nie.
Hangara het intussen saam met sy seun om hulp by die Vroue- en Kinderbeskermingseenheid gaan aanklop in ’n poging om alleentoesig oor sy seun te kry asook ’n nuwe tuiste vir die twee kleintjies asook die ouer meisie te bewerkstellig.
“My seun en sy halfboetie en -sussie bly in ’n hool. Die seuntjie is in ’n hondehok buite die sinkhuisie gekry waar hy tussen vuil lappe en komberse gelê het. Die ouer meisie is aan ander lelike goed blootgestel. Wat gaan van hulle almal word? Die Regering moet mos na hulle kan kyk!”
Volgens Hangara woon sy seun se ma nie permanent daar nie, maar is daar ook ’n ouma, wat blind is, ’n oupa en nog familielede wat daar woon.
“Ek vermoed die oumense se pensioen word gebruik om dagga en drank te koop. My 10-jarige kind word gestuur om dit gaan koop en dan moet hy nog die daggazol vir hulle aansteek ook.”
Toe Hangara sy seun glo gekonfronteer het nadat hy hom met drank betrap het, het die seun geantwoord: “Dit vat die honger weg en laat my slaap.”
Die Vroue- en Kinderbeskermingseenheid het volgens Hangara beloof om die omstandighede by die ma se huis te ondersoek.
Hy het ook ’n aansoekvorm voltooi wat hy by die Ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn moet gaan indien om alleentoesig oor sy seun te verkry.
Die lot van die ander drie kinders is egter duister omdat hulle volgens Hangara en die staat nie by ouma Paulina kan bly nie, omdat sy nie geregistreer is om na hawelose kinders om te sien nie. Volgens die ouma is haar huis egter sedert 1992 ’n skuiling en tuiste vir verskeie hawelose kinders.
“Ek het al hoeveel pogings aangewend om Mamakhai Hangara te registreer. Dit loop elke keer op ’n dooiepunt uit.”