
Hoe dit onder die wasbakke gelyk het weens pype wat lek.

Die matte en res van die vloer is onder water.
INWONERS van die Matthys Greeff-tehuis op Outjo is behoorlik die harnas in oor die slakkepas waarteen herstel- en opknappingswerk by die oord vir bejaardes geskied.
“Dis ’n gemors,” het een dame met ’n geboë hoof gesê toe Republikein die tehuis besoek het om eerstehands ondersoek in te stel.
Onlangs het ’n span van die direktoraat van Werke wel opgedaag om op klagtes ag te slaan, maar volgens een tante moet jy “senuwees van staal” hê vir die werkers. “Hulle het tien dae gevat om twee nuwe wasbakke in te sit,” mor sy.

Baddens se krane wat aanhoudend lek.
Daar is altesaam 17 woonstelle by die tehuis, waarvan drie bespreek is vir mediese personeel. In Oktober 2009 is die kamers, behalwe vir die matte, nuut oorgedoen, terwyl bejaardes al vir jare saam met die verval moet leef.
Inwoners beweer die ouetehuis is in so ’n gevorderde stadium van agteruitgang dat die vensters sal uitval as dit gewas moet word.
Oor die veiligheid kla hulle ook. Daar is net in die nag sekuriteit en glad nie meer in die dag nie.

Waar dubbelmure bymekaarkom en ’n geut moet wees.
’n Totaal van ses inbrake, asook ’n voorval waar ’n bejaarde aangerand en haar arm gebreek is, het al gedurende die dag plaasgevind.
Behalwe vir lekkende krane wat nou herstel word, lek omtrent al die dakke. Toilette is stukkend en vloerbedekkings in ’n haglike toestand.
Die geute is al vir 15 jaar stukkend en verstop, sê die klaers. Water loop onder meer tussen dubbelmure in.

Die vloere is onder water en die vloerbedekking lig gevolglik op.
Die rioolpyp lek al glo vir die afgelope vyf jaar, terwyl die kamers in 20 jaar nog nie weer geverf is nie. Ook die heining rondom die perseel is in ’n slegte toestand.
Water vloei volgens die klaers soos ’n rivier deur die erf wanneer dit hard reën; dan kan die bejaardes nêrens heen gaan nie.
Vir die laaste ses jaar al het die tehuis volgens inwoners geen tuiniers of skoonmakers meer nie. Oumense moet van hulle eie geldjies vir ’n tuinman afknyp, wat glo nie kan bybly met die werk nie. Party bejaardes skoffel maar self of help met die tuinwerk op hul gevorderde ouderdom.

Die riool wat sy inhoud uitstoot.