Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

27.01.2012

Oorlog kom oor prys van melk

© Yolanda Nel
Die invoerheffing op langlewe melk is sedert die begin van die jaar opgehef. Hier is me. Eva Deschauer by langlewe melk wat nou goedkoper deur Clover ingevoer kan word.
VERBRUIKERS van veral langlewe melk slaak ’n sug van verligting nadat die prys van hierdie melk afkomstig uit ander lande sedert die begin van die jaar aansienlik goedkoper is.

Dit volg nadat die heffing wat op die invoer daarvan wat die afgelope agt jaar in werking was, opgeskort is.

Intussen vrees produsente en ander rolspelers in die plaaslike suiwelbedryf dat produsente uit die mark gedruk mag word na die regulasie op die beskerming van plaaslike jong nywerhede, wat deur middel van ’n invoerheffing toegepas is, op 1 Januarie afgeskaf is.

Die regulasie het buitelandse produsente van langlewe melk die afgelope agt jaar verplig om, buiten die gewone invoerbelasting, ’n verdere heffing van tot soveel as 40% op die invoer van dié melk te betaal.

Volgens die voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging, mnr. Kokkie Adriaanse, is die plaaslike mark nou onder baie druk aangesien dit met goedkoper buitelandse produkte moet meeding.

“Daar was voorheen reeds groot kompetisie en met die afskaffing van die beskermingsmaatreël moet ons nou met goedkoper produkte van onder meer Suid-Afrika en ander lande meeding,” het hy gister aan Republikein gesê.

Adriaanse sê dat die Melkprodusentevereniging van Namibië volgende week in Windhoek sal vergader om die pad vorentoe te bespreek.

Die besturende direkteur van Namibia Dairies, mnr. Hubertus Hamm, is van mening dat die effek van die afskaffing van die regulasie reeds in die Namibiese mark gevoel kan word.

Namibia Dairies is tans die grootste melkprodusent in die land en is ook die grootste verwerker van suiwelprodukte in Namibië wat aan hom ’n monopolie in die mark gee.

“Dit behels dat verdere druk op marges en winsgewendheid geplaas word aangesien ons besigheid klein is in vergelyking met Clover SA wat 15 keer groter as ons is.

“Namibië se suiwelprodukmarkaandeel is slegs 1% van die van Suid-Afrika wat veroorsaak dat ons baie kwesbaar vir enige mark-diversifisering is,” het Hamm in ’n e-pos aan Republikein gesê.

Volgens hom is die plaaslike mark veral kwesbaar omrede geen heffings op Suid-Afrikaanse produkte, buiten die gewone tariewe van die Suider-Afrikaanse Doeaneunie bestaan nie.

“Dit laat die Suid-Afrikaanse maatskappy toe om roofprystaktiek in Namibië te gebruik om volumes te bekom om sodoende plaaslike besighede en indiensneming te vernietig,” het Hamm gesê.

Hy sê egter dat Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap- en SADU-markte oor beskermende maatreëls beskik om hul plaaslike bedrywe teen die grootte van die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te beskerm, maar “in die afwesigheid van ’n SAOG/SADU-voltooiingsraad dit ’n realiteit is en ons nie veel kan doen om ons daarteen te verdedig nie”.

Op ’n vraag of die vrees bestaan dat buitelandse produsente hul melkvoorrade in Namibië kan stort, het Hamm gesê na sy mening is dit reeds aan die gebeur.” Clover het glo ses miljoen liter langlewe melk in Suid-Amerika geproduseer wat hulle in Suider-Afrikaanse markte gestort het.

“Druk van die melkprodusente in Suid-Afrika het verseker dat hulle nie die produk daar nie, maar slegs in die naburige lande kan verkoop. Dit is dus duidelik dat hulle die dryfkrag agter ’n poging is om plaaslike besighede en werk te vernietig.”

By navraag het Clover ten sterkste ontken dat dit besig is om langlewe melk in die Namibiese mark te stort.

“Ons ontken absoluut dat ons besig is om melk in die Namibiese mark te stort. Ons sal egter ons produkte bevorder deur gestruktureerde promosie-aanbiedings met kleinhandelkettings aan te gaan,” het mnr. Craig Deyzel, die hoofbestuurder van Clover in Namibië, gesê.

Hy het gesê dat besparing op invoerheffings wat in ’n stadium die afgelope jaar op 40% gestaan het, na die verbruiker oorgedra word.

Op ’n vraag of dit beplan om direk met Namibia Dairies mee te ding, het Deyzel gesê: “Beslis, dit is in die beste belang van die suiwelbedryf en veral die verbruiker dat gesonde kompetisie in Namibië heers.

“Clover het ’n unieke verskeidenheid van topgehalte suiwelprodukte waarvan die verbruik in Namibië tot voordeel van almal, van die boere tot verbruikers, sal wees.

“Verbruikers in Namibië sal voortaan dus minder vir hul melk betaal,” het Deyzel gesê.