6.02.2012 Onwettige vaartuig vas
’n LEË olietenkskip uit Wes-Afrika wat sedert 11 Januarie onwettig in Namibiese gebiedswater voor anker lê, is die naweek onder gewapende begeleiding van die vloot na Walvisbaai geneem.
Die voorval is Vrydag deur die waarnemende hoof van operasies in die Namibiese vloot, Gottlieb Pandeni, bevestig, berig Nampa.
Die vaartuig, Ben-K, is deur die direktoraat Maritieme Aangeleenthede in die Ministerie van Werke en Vervoer sowat 8 seemyl noord van Swakopmund in die omgewing van Myl 4 opgemerk en die vloot is daarvan in kennis gestel.
Die vaartuig vaar onder die vlag van Ekwatoriaal-Guinee en het die Namibiese gebiedswater na bewering op 8 Januarie binnegekom en het drie dae later haar ankers laat sak.
Pandeni het aan Nampa gesê die vaartuig is Donderdag vir die eerste keer opgemerk, waarna dit deur ’n gewapende vaartuig van die vloot na Walvisbaai begelei is.
Die aangeleentheid is intussen onder die polisie se aandag gebring, wat die saak saam met immigrasiebeamptes in die Ministerie van Binnelandse Sake ondersoek.
Die 13 bemanningslede, 11 Indiërs en 2 Pakistaniërs, is in aanhouding en word ondervra. Dit blyk die vaartuig was van Lagos in Nigerië na Port Alen in Indië onderweg.
Volgens Pandeni lyk dit nie of die vaartuig seewaardig is nie. Dit is nie bekend wat dit langs die Namibiese kus gesoek het nie.
Hy het aan Nampa gesê die polisie se ondersoek sal bepaal of die bemanning met onwettige optrede besig was.
Die vorige onwettige vaartuig waarop in Namibiese gebiedswater beslag gelê is, was die Lamo wat 3 000 ton skrootmetaal aan boord gehad het en ook na Indië op pad was. Daardie voorval het in April 2007 plaasgevind.
|