VERKEERSBEHEER in Windhoek het oor die afgelope vakansieseisoen ’n algehele verbetering getoon, in vergelyking met dieselfde tydperk ’n jaar gelede, het supt. Adam Eiseb, adjunkhoof van die hoofstad se verkeersbestuurseenheid, in ’n mediavrystelling gesê.
In totaal is 9 359 verkeersoortredings in die feesseisoen aangeteken met 3 120 bestuurders wat tussen 1 Desember 2011 en 17 Januarie 2012 op die stadspaaie aangekeer is.
’n Totaal van 5 196 klagte is teen bestuurders aanhangig gemaak wat die spoedgrens oortree het, terwyl 60 motoriste vir dronkbestuur aangekeer is. Uit die 60 dronkbestuurgevalle is 47 alkoholverwante ongelukke aangemeld.
Ses mense het in 588 ongelukke op die hoofstad se paaie gesterf met die slagoffers wat twee bestuurders, een passasier en drie voetgangers ingesluit het.
Volgens Eiseb was die meeste ongelukke ’n direkte gevolg van menslike foute soos roekelose bestuur. “Laasgenoemde is vererger deur onervare bestuurders van wie sommige hul bestuurderslisensies eers onlangs ontvang het.”
Die meeste ongelukke (129) was gevalle waar een voertuig agter in ’n ander vasgejaag het, gevolg deur die 127 sykantbotsings. “Onvoldoende volgafstande en ’n gebrek aan waarneming en algemene kommunikasie was die grootste sondaars en dit is vererger deur spoed.”
Oor die veiligheid van voetgangers het Eiseb gemaan dat die hoofstad se paaie veel te wense in die verband oorlaat. “Voetgangers onderskat die afstand en spoed van aankomende verkeer wanneer hulle paaie oorsteek en dra ook nie klere wat hulle duidelik sigbaar maak nie.”
Eiseb was egter vol lof vir Jan Publiek wat wetstoepassingsagentskappe ondersteun deur roekelose en verwante bestuur by die verkeerspolisie aan te meld. Hy het inwoners aangemoedig om die tolvrye nommer 302 302 te gebruik om verkeersoortredings aan te meld, terwyl ’n SMS ook na 44 44 gestuur kan word.
Intussen het senior superintendent Gerry Shikesko van die Stadspolisie se noodbestuurseenheid gesê statistiek vir die feesseisoen toon dat misdaad binne die grense van die hoofstad onder beheer is.
“Misdaad in Windhoek het ’n duidelike afname getoon ten opsigte van huisinbrake, rooftogte, motordiefstal en diefstal uit motors wat binne ’n jaar met tot 64 persent afgeneem het.”
Misdaad wat steeds kommer wek, sluit in huisinbrake, rooftogte, motordiefstal, diefstal by werkgewers en aanrandings.
In die lig hiervan is sekere misdaadvoorkomingstrategieë in die lewe geroep om die betrokke misdade meer doeltreffend hok te slaan. Dit het ingesluit die gebruik van moderne tegnologie soos kringtelevisie asook polisiëring in Windhoek se ingedeelde sones.
“Ons is vas oortuig dat misdaad in die hoofstad met wortel en tak uitgeroei kan word, maar dit gaan die aktiewe deelname van die hele gemeenskap vereis.”
Met verwysing na onlangse berigte in die media oor klagtes van korrupsie onder polisielede, het Shikesho beklemtoon dat die Stadspolisie daartoe verbind bly om die hoofstad en sy inwoners met die hoogste etiese standaade te dien.
“Korrupte en onetiese optrede word nie binne hierdie struktuur verwelkom of ondersteun nie.”
Volgens Shikesho sal die Stadspolisie teen hierdie agtergrond verseker dat beamptes wat nie aan die etiese standaarde voldoen nie, kragtens die vasgestelde wette en regulasies hanteer sal word.