’n BEKENDE in Namibiese sport- en vervoerkringe is dood ná ’n ongeluk met ’n vierwielmotorfiets in die veld naby Okahandja.
Die 37-jarige Jannie Boshoff (foto), wat vir Namibië skolerugby gespeel en later sy pa, Bossie, met die bestuur van Boshoff Transport gehelp het, het Saterdag op ’n tweespoorpaadjie in die veld op ’n plot buite die dorp verongeluk.
Volgens mnr. Bossie Boshoff was sy seun saam met van sy vriende op die plot om ’n potjie te maak en om na die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks te kyk. Na die wedstryd het Jannie saam met twee van sy vriende met vierwielmotorfietse in die veld gaan ry.
“Jannie was blykbaar ’n ent voor die ander twee manne en toe hulle om ’n draai in die paadjie kom het hulle die motorfiets in die tweespoor pad sien lê. Hulle kon egter nie vir Jannie sien en het na hom begin soek.”
Volgens mnr. Boshoff het sy vriende hom onder ’n bos gekry en was Jannie toe reeds dood. Hy sê dit lyk of die versneller van die motorfiets vasgehaak het en dat dit onderdeur ’n haakbos is en toe teen ’n kameeldoringboom gebots het.
Voor hy saam met sy pa in die vervoerbedryf begin werk het, was Jannie in Windhoek Hoërskool waar hy in sport uitgeblink het. Hy het vir die Namibiese skolerugbyspan stut gespeel, onder meer op ’n toer na Europa in 1991.
Hy word oorleef deur sy vrou en twee kinders en volgens mnr. Boshoff sal begrafnisreëlings later vandeesweek bekend gemaak word.
Boshoff Transport is vir die afgelope 20 jaar reeds vir die vervoer van Republikein se grootmaat koerantpapier vanuit Johannesburg na Windhoek verantwoordelik.