23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

15.02.2012

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

Tragedie naby Gobabis

© Verskaf
Mnr. Stefanus Pienaar (24) het gister gesterf nadat hy in ’n motorongeluk ernstig beseer is. Die foto is op 4 Februarie geneem toe hy aan ’n uithourit by Okahandja deelgeneem het.
NAMIBIË se perdrygemeenskap is in rou gedompel nadat een van die land se voorste ruiters met verskeie internasionale titels agter sy naam, gistermiddag aan die beserings beswyk het wat hy vroeër die dag in ’n motorongeluk opgedoen het.

Mnr. Stefanus Pienaar (24) was saam met sy vrou, Heidi, vanaf sy pa se plaas Masindi in die Gobabis- omgewing na hul plaas onderweg. Die jong egpaar, wat in Oktober getroud is, het agter hul voertuig ’n perdesleepwa met vier perde gesleep.

Die voertuig het na verneem word op die gruis gegly en omgeslaan. Stefanus het ernstige rug- en longbeserings opgedoen wat inwendige bloeding veroorsaak het. Heidi is ook beseer.

Twee van die perde is op slag dood en een is later op die toneel van kant gemaak.

Volgens ’n e-pos wat gister kort ná die ongeluk onder vriende en kennisse rondgestuur is, is die egpaar eers in die kliniek op Gobabis gestabiliseer voordat hulle met ’n noodvlug van E-Med Rescue na Windhoek geneem is. Sy ma, me. Johanna Pienaar, het saam met hulle gevlieg.

Stefanus het egter beswyk nog voor die vliegtuig in Windhoek geland het.

Me. Annette Hanekom, sekretaresse van die Namibiese Uithouritvereniging (Nera), het aan Republikein gesê die perdrygemeenskap is geskok en verslae oor wat gebeur het.

Sy sê hy was nie net ’n uitstekende ruiter wat al verskeie internasionale titels tydens uithouritte ingepalm het nie, maar was ook ’n mens vir wie almal lief was. “Sy dood is vir ons ’n groot tragedie.”

Me. Adèle Cranz, ook ’n bekende in ruiterkringe, sê hy het geweldig baie kennis van perde gehad. “Hy het die ruiterkuns verstaan en ’n mens kon baie by hom leer.”

Hy het die Namibiese uithouritspan die afgelope tien jaar nasionaal en internasionaal verteenwoordig. Hy het perde opgelei en beslaan, Arabierperde geteel en self ook geboer, sê sy.

Daarbenewens het hy en sy broers, Janneman en Schalk- Willem, bekendheid verwerf vir die maak van saals en tooms vir uithouritte. Hulle besit die onderneming Pienaar Bros Saddlery op Gobabis.

Hy laat benewens sy vrou, ma en twee broers, ook sy pa, mnr. Johannes Pienaar en suster, Yolandie, agter.

Teen druktyd was dit nie bekend hoe dit met sy vrou gaan nie. Sy sterk in ’n private hospitaal in Windhoek aan.