
Die nuwe Onafhanklikheidgedenkmuseum sal hopelik met die Heldedagvieringe op 26 Augustus vanjaar amptelik sy deure vir die publiek open.
DIE nuwe Onafhanklikheidgedenkmuseum sal nie meer soos vroeër berig is op 21 Maart sy deure kan open wanneer Namibië 22 jaar van onafhanklikheid vier nie.
Die voorbereiding van die uitstallings is te omvangryk daarvoor.
Die span wat die uitstallings gereed moet kry, mik nou daarna om die museum teen 26 Augustus gereed te hê, sê me. Esther Moombolah- Goagoses, hoof van die Nasionale Museum van Namibië en waarnemende direkteur van die nasionale erfenis- en kultuurprogram in die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur. Namibië vier dan Heldedag.
Bouwerk aan die nuwe museum is verlede jaar voltooi. Dit het die Regering volgens berigte N$7 miljoen gekos om dit op te rig.
Die Ruiterstandbeeld, een van Namibië se bekendste argitektoniese landmerke, moes in ’n geskiedkundige poging om dit te red tot voor die Alte Feste verskuif word. Dié standbeeld is op 27 Januarie 1912 amptelik ingewy, wat beteken die honderdjarige herdenking vind komende Vrydag plaas.
Moombolah-Goagoses het in ’n telefoniese onderhoud beklemtoon dat 26 Augustus net ’n “voorlopige datum” is en dat dit nog nie met die Staatshoof, Pres. Hifikepunye Pohamba, bespreek is nie.
Volgens haar is die voorbereiding van die uitstallings wat Namibië se vryheidstryd uitbeeld van die vroeë weerstandstyd tot onafhanklikwording in 1990, geen geringe taaknie. Sy sê geskiedskrifte en onderhoude word gebruik om deur middel van klank-, video- en fotomateriaal die storie van die vryheidstryd te vertel.
Ander artefakte soos uniforms sal ook ingespan word om lewensgetroue uitbeeldings van byvoorbeeld veldslae te skep.
“Buiten om argiewe te raadpleeg, moet ons met verskeie mense onderhoude voer om seker te maak die uitstallings beeld die gebeure histories korrek uit. Dit neem baie tyd in beslag.
“Ons doen ons bes om die museum so vinnig as moontlik ingerig te kry, maar dit is belangrik dat die publiek besef van die groot museums in Europa het tussen vier en vyf jaar nodig gehad om hul uitstallings gereed te kry,” het sy gesê.
Nampa het vroeër berig begrotingbeperkings bemoeilik die span se taak.
Die Ministerie van Werke en Vervoer was vir die bouwerk verantwoordelik, terwyl die Ministerie van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur na die uitstallings moet omsien.
Volgens Moombolah-Goagoses het laasgenoemde Ministerie egter nie hiervoor begroot nie.
Sy sê daar word op die oomblik met die veteraan-fotograaf John Liebenberg onderhandel vir foto’s wat hy in die tagtigerjare in die destydse Suidwes-Afrika geneem het. “Ons kry dit nie verniet nie. Ons moet baie daarvoor betaal.”
Die ander fotobron is Swapo se argief – materiaal waarvoor die Ministerie eweneens moet betaal.