27.01.2012 Neckartal-wiele gereed om te rol
MET die Neckartal-wiele wat gereed is om ná vandag se Tenderraad- vergadering te rol, hou Suiderlanders asem op of die tenderaar wat die multimiljoen dollar kontrak kry, wel plaaslike subkontrakteurs gaan bemagtig.
Dit blyk dat net twee van die sewe konstruksiereuse in die tenderwedloop Keetmanshoop voor die tyd besoek het om met sakelui, plaaslike kontrakteurs en ander groepe oor hul betrokkenheid te vergader.
“Wanneer die Neckartaldam oor sowat drie jaar staan en die water loop in, moet die nalatenskap van dié reusebouprojek die bemagtiging van die kontrakteurs en entrepreneurs in die Suide wees. Dit help nie wie ook al die tender kry betrek subkontrakteurs onder die groot ouens in Windhoek en gebruik verskaffers op ander plekke in die land nie. Dit gaan nie die armoede in ons streek verlig nie. Dit gaan die groot Namibiese kontrakteurs net nog ryker maak.”
Só sê mnr. Chris Agenbach, eienaar van EDC Construction wat die stormwaterstrukture oprig namens KL Construction wat die Neckartal-pad bou. Agenbach is ook die visevoorsitter van die Kamer van Handel en Nywerheid op Keetmanshoop.
Volgens hom was Grinaker LTA en die Portugees-Namibiese groep Odebrecht-Technonam JV die enigste tenderaars wat verteenwoordigers na Keetmanshoop gestuur het om te kyk hoe hulle met die plaaslike gemeenskap kan saamwerk. “Group Five (Contractors) het ook as ’n nagedagtenis hier ’n draai gemaak. Van die Chinese (China Henan International Cooperation) of die Italianers (Impregilo SpA) was daar egter geen teken nie.”
Mnr. Andrew Ndishishi, permanente sekretaris van Landbou, Water en Bosbou, het gister bevestig dat sy Ministerie se aanbeveling oor watter een van die sewe tenderaars op die kortlys die kontrak moet kry, gereed is om vandag voor die Tenderraad te dien.
Dit volg nadat die laaste uitstaande kwessie, naamlik ’n regsmening wat van die Ministerie van die Prokureur-generaal, dr. Albert Kawana, afgewag is, ook afgehandel is.
Die Tenderraad het op 6 Januarie die evaluering van die kandidate na die Ministerie terugverwys ná die tenderproses deur besluite in Desember in omstredenheid gedompel is.
Agenbach het gister ’n lansie gebreek vir “die klein kontrakteur met die kruiwa, pik en graaf” en gesê hulle het die kapasiteit om die werk te doen, mits hulle in alle akspekte van entrepreneurskap soos die hantering van kontantvloei en administrasie opgelei word.
Hy is vir kommentaar genader nadat dit aan die lig gekom het dat die kleinsake-onderneming wat EDC Construction gesubkontrakteer het om die betonstrukture aan die Neckartal-pad te help bou, nie sy werkers kon betaal nie.
Die werkers van Kokerboom Construction, waarvan mnr. Jan Kooper die eienaar is, het ’n klag hieroor by die Ministerie van Arbeid en Maatskaplike Welsyn ingedien.
Volgens Agenbach het Kooper en sy span baie goeie werk gelewer. Hy sê die fout was dat die pad binne ses maande gebou moes word en daarom kon die klein kontrakteurs nie opleiding kry oor hoe om hul kontantvloei en ander administratiewe kwessies te hanteer nie.
“Die dam is ’n ander storie. Dit is ’n baie lang projek en opleiding is een van die sleutelaspekte. Ek het vertroue in ons kleiner kontrakteurs en daarom hoop ek hulle gaan by Neckartal baat. Die projek is in elk geval so groot dat elke kontrakteur in hierdie land ’n stukkie van die werk kan kry.”
Ndishishi het kort voor druktyd gister ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy beweringe in die media ontken het oor onreëlmatighede in die uitvoering van die studie om die maatskaplike en omgewingsimpak van die dam te bepaal.
Benewens ’n breedvoerige uiteensetting van hoe die studie aangepak is, is ’n brief deur die Ministerie van die Omgewing en Toerisme aangeheg wat die impakstudie as voldoende bevind het.
Laasgenoemde Ministerie beveel egter aan dat wanneer die projek begin, gereelde omgewingsmonitering gedoen en indien nodig, sekere verbeteringe aangebring moet word.
|