9.08.2010 Nasie se inspirasie
DIE familie van Magdalena Stoffels het diepe waardering aan Republikein en Namibian Sun betuig vir die publikasie van ’n spesiale gesamentlike koerant wat Saterdag na afloop van die begrafnis gratis versprei is.
Vanweë die groot openbare belangstelling en die manier waarop Magdalena se sinlose dood die nasie se harte aangegryp het, is besluit om die gesamentlike koerant so gou as moontlik op straat te kry.
Die lykwaak Vrydagaand by Magdalena se ouerhuis, Saterdag se byeenkoms ook by die ouerhuis, die roudiens by die Hoërskool Dawid Bezuidenhout en die teraardebestelling in die Khomasdal begraafplaas is in ’n fotobeeld vasgevang met gepaardgaande beriggewing oor die dag se gebeure.
Altesame 12 000 van die spesiale koerante is Saterdag na afloop van die begrafnis en Sondagoggend gratis in Windhoek versprei.
Videomateriaal van die lykwaak, die roudiens en die begrafnis was ook kort na die teraardebestelling op Republikein se webtuiste (onder Videonuus) te sien.
|