30.08.2010 Napwu skik vir N$100
MUNISIPALE werkers op Gobabis moet vandag almal terug in die tuig wees ná ’n weeklange staking oor ’n betaalgeskil. In skerpe teenstelling met ’n massiewe staking deur Suid-Afrika se amptenare, was die Namibiese Unie vir Staatsdienswerkers (Napwu) bereid om vir ’n skrale N$100 meer per maand met die dorpsraad te skik.
“Ek dink nie hulle kan meer aanbied nie,” het mnr. Gabes Andumba, adjunk-sekretarisgeneraal van Napwu, al laat Woensdag aan Republikein gesê ná onderhandelinge wat feitlik die hele namiddag geduur het.
Hierna het die partye vir Heldedag ’n blaaskans geneem. Prokureurs het Vrydag die ooreenkoms op skrif gestel. Dit is omstreeks 11:00 deur die vakbond en burgemeester onderteken.
Mnr. Efraim Dawids, hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, het bevestig dat ’n verhoging van N$100 per maand, terugwerkend sedert Julie, die prys vir vrede was. Die topbestuur kry niks.
“Ons het nie nou die geld nie,” het hy egter benadruk. Volgens mnr. Dawids sal werkers eers die verhoging kry wanneer ’n omkeerstrategie om Gobabis se geldsake reg te ruk, vrugte afwerp. Tans skuld die munisipaliteit elkeen van sy byna 190 werkers reeds N$200. “Dit is hulle werk (om die geld te vind),” was mnr. Andumba se kommentaar.
Vir van die laagste besoldigde werkers, wat volgens Napwu N$1 600 per maand verdien, beteken N$100 per maand ’n verhoging van 6.25%.
Volgens mnr. Dawids is die dorpsraad van mening dat deelnemers aan die staking “volgens die letter van die wet” hul inkomste vir die protes sal moet inboet.
Vir die werker in die betaalkategorie hierbo sal dit ’n verlies van N$400 beteken.
Mnr. Dawids het gesê die raad is egter bereid om oor die kwessie te onderhandel. Volgens mnr. Andumba sal Napwu by die stakers staan.
Die vakbond voer aan dat die werkgewer in slegte trou onderhandel het en het bygevoeg dat die beginsel van “geen werk, geen geld” ’n opsie en nie ’n wetlike verpligting is nie.
Ontwrigting, het mnr. Dawids deurlopend tydens die staking gesê, was minimaal – indien enigeen verontrief was.
|