26.02.2010 Namibië wil ivoorbronne volhoubaar bestuur
SOU Kenia se voorstel aan die Cites CoP15-vergadering slaag en die moratorium op die verkope van ivoor tot 20 jaar verleng word, sal dit direk indruis teen die beginsels van volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne, soos die Grondwet stipuleer.
Me. Louisa Mupetami, adjunkdirekteur van wetenskaplike dienste in die Ministerie van die Omgewing en Toerisme en Namibië se verteenwoordiger op die Konvensie oor Handel in Bedreigde Spesies (Cites), sê die Regering doen sy bes om goeie bewaringspraktyke te bevorder wat tot voordeel van die natuurlewe en die inwoners van die land is.
Op die oomblik mag Namibië elke nege jaar ivoor verkoop en die land het toestemming om met ivoorprodukte handel te dryf.
Op die laaste vergadering (Cites CoP14) in 2007 het Kenia en mede-aansoekers Rwanda, Mali, Liberië, Ghana, Kongo en Sierra Leone, ’n voorlegging ingedien om ’n 20 jaar moratorium op ivoorhandel te plaas. Namibië het names homself, Botswana, Suid- Afrika en Zimbabwe,’n teenvoorstel ingedien om die moratorium net vir nege jaar te laat geld.
“Ná uitgerekte besprekings tussen die betrokke Afrika-lande en die Europese Kommissie, is ’n vergelyk getref, waarin die vier Afrika-lande toestemming gekry het om ’n eenmalige verkoping van ivoor te hê en geen verkope daarna vir nege jaar. Ingesluit in die pakket is dat Namibië en Zimbabwe kan voortgaan om verwerkte ivoor en omakipa te verkoop,” het me. Mupetami aan Republikein gesê.
“Ons beskou die nuwe voorlegging aan CoP15 deur Kenia en mede-aansoekers in kwade trou van die ooreenkoms wat in 2007 aangegaan is.
“Voorts druis dit ook in teen die bepalings van die Grondwet om natuurlike hulpbronne volhoubaar te bestuur en ons poging om landelike inwoners van Namibië in harmonie met die natuur te laat saamwoon. Op dié wyse verseker ons ten minste ’n toekoms vir die natuurlewe in en buite beskermde gebiede in Namibië.”
Intussen, het me. Mupetami gesê, geld die moratorium wat die Ministerie op die verkope van omakipa geplaas het steeds.
“Die wet op beheerde natuurlewe- produkte en handeldryf daarin is verlede jaar bekragtig. Die Ministerie van die Omgewing en die Ministerie van Justisie se wetsopstellers werk nog aan die regulasies wat kragtens die wet uitgevaardig moet word. Die moratorium sal eers opgehef word wanneer die regulasies in die Staatskoerant gepubliseer is.”
|