25.01.2012 Namdeb-gesprek hervat Maandag
ONDERHANDELINGE tussen Namdeb en die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) oor verskeie arbeidsgeskille by die diamantreus sal eerskomende Maandag in Windhoek hervat.
Indien nodig sal die vredesgesprek vir ’n tweede week op Oranjemund voortduur.
Die spesiale, drieledige komitee wat verlede jaar in die lewe geroep is ingevolge ’n skikking wat deur Staatshuis beding is, vergader vanaf 30 Januarie tot 2 Februarie in die hoofstad en moontlik weer vanaf 7 tot 10 Februarie in Windhoek.
’n Maandlange staking het die maatskappy verlede jaar ’n beraamde N$120 miljoen gekos. Dit was een van die mees uitgerekte en duurste arbeidskonflikte in die land se geskiedenis.
“Ek hoop ons kan al die uitstaande kwessies minsaam bylê,” sê mnr. Shavuka Mbidhi, MUNtakvoorsitter by Namdeb.
Die vakbond bly briesend daaroor dat die werkgewer na bewering ondanks ’n ooreenkoms om meer as 250 kontrakwerkers permanent aan te stel, van die mense se kontrakte nie hernu nie en die werk nou aan ’n subkontrakteur gee. Van die werkers werk volgens die MUN al langer as ’n dekade vir die myn. “Ons neem die saak glad nie ligtelik op nie,” het Mbidhi benadruk.
Ander voortgesette haakplekke handel volgens die takvoorsitter oor die wysiging van verlofvoordele en hoe lank dit terugwerkend van krag sal wees, uitbetaling van 2,5 persent van werkers se salarisse vir produksie en behuising. Die MUN dring aan dat werknemers se salarisskaal en status geen rol speel in wie ’n mynhuis ontvang nie. “Almal is op die voordeel geregtig,” het Mbidhi verduidelik.
Namdeb is vir kommentaar genader oor die voortgesette onderhandelinge en die stand van produksie by die myn, maar dit het nog nie op die koerant se vrae gereageer nie.
Die Arbeidskommissaris, mnr. Bro-Mathew Shinguadja, is die voorsitter van die drieledige onderhandelingsforum.
|