7.02.2012 ’n Pleister teen ’n katklou
’n PLEISTER was die enigste mediese hulp wat ’n jong Noorweegse vrou Saterdagoggend nodig gehad het toe sy deur ’n jagluiperd by die Harnas Wildlewe-stigting aan haar bobeen gekrap is.
Volgens ’n mediaverklaring van Harnas het die voorval die oggend tydens ’n voedingstoer van jagluiperds op die wildplaas sowat 110 km oos van Gobabis plaasgevind.
Die 22-jarige me. May Johanson van Alesund in Noorweë was saam met agt gaste op ’n wildbesigtigingsvoertuig en het glo saam met die toergids, mnr. Joshua Shilongo, afgeklim om die jagluiperds kos te gee.
“Sy het probeer help om die jagluiperds van die kos weg te hou, toe een van die diere haar per ongeluk gekrap het,” lui die verklaring. Die jagluiperd het Johanson op haar regterbobeen gekrap en haar kort denimbroek geskeur. Sy het ’n ligte besering opgedoen.
“Johanson het geen mediese hulp, buiten ’n pleister, nodig gehad nie en sy het haar toer voortgesit.”
Harnas sê gaste en vrywillige werkers van Harnas is bewus van die betrokke verantwoordelikhede en risiko’s om met wilde diere op ’n daaglikse grondslag te werk.
“Voor enige kontak met wilde diere is hulle deeglik opgelei. Die veiligheid van vrywillige werkers is baie belangrik vir Harnas en sy program.”
Me. Jo van der Merwe van die Harnas-bestuur het verseker dat die voedingstoere na dese noukeurig gemonitor sal word.
Voorts het sy gesê die toere word al vir byna 20 jaar op Harnas gehou en tydens die twee dekades het min beserings plaasgevind.
“Harnas volg te alle tye die voorsorgmaatreëls om besoekers se veiligheid te verseker. Gaste en vrywillige werkers moet altyd onthou dat ons op ’n Namibiese plaas werk wat aan die natuur en wildlewe toegewy is. Hoewel ongelukke kan voorkom, probeer ons sulke voorvalle so ver as menslik moontlik te vermy,” het Van der Merwe gesê.
|