N$1,1 miljard al na Air Nam

Air Namibia het die belastingbetaler in die huidige boekjaar reeds N$1,079 miljard uit die sak gejaag, terwyl die redery aangedui het hy benodig N$422 miljoen vir 2013/2014.

Dié skoksyfers het bekend geword terwyl Namibië asem ophou om te sien of die regering vir die soveelste keer 'n tussentydse finansiële reddingsboei gaan uitgooi om Air Namibia uit sy onmiddellike geldnood te help.

Benewens die N$822 miljoen wat die staat in die 2012/2013-begroting moes opdok om Air Namibia se nuwe sakeplan te finansier, het die ministerie van werke en vervoer die afgelope jaar 'n verdere N$257 miljoen beskikbaar gestel om die redery se boeke te laat klop.

Wat die 2013/2014-begroting betref, het die regering N$164 miljoen vir Air Namibia se sakeplan bewillig. Die redery het egter aangedui hy sal 'n verdere N$258 miljoen nodig hê om sy ander finansiële verpligtinge na te kom.

Dit was voor die jongste geldkrisis waartydens Engen Namibia die lewering van vliegtuigbrandstof gestaak het omdat Air Namibia nie die agterstallige rekening van sowat N$70 miljoen kan betaal nie.

Me. Ericah Shafudah, permanente sekretaris van finansies, het gister dié inligting by navraag bekend gemaak. "My ministerie is deursigtig en wil nie hierdie syfers van die belastingbetaler weerhou nie."

Intussen het me. Eldorette Harmse, voorsitter van die Vervoerkommissie, gesê sy het kundige advies ingewin om vas te stel of Air Namibia sy lisensievoorwaardes verbreek deur op pad na Frankfurt in Luanda brandstof te tap.

Die nasionale redery is sedert laat verlede maand verplig om so te vlieg omdat hy nie sy rekening by Engen kan betaal nie. Die oliemaatskappy het aanvanklik nog brandstof afgelewer op voorwaarde dat Air Namibia vooruit daarvoor betaal, maar toe die redery dít nie meer kon doen nie, is die brandstofkraan by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe styf toegedraai.

Me. Theo Namases, besturende direkteur van Air Namibia, het aan Republikein gesê die Luanda-reëling is strydig met die voorwaardes van die redery se lisensie vir die Frankfurt-roete, maar dat die "relevante owerhede" daaroor ingelig is.

Me. Harmse het egter 'n kundige hieroor genader en dit blyk of as Air Namibia onderweg na Frankfurt vir 'n tegniese rede soos om brandstof te tap in Luanda sou land, dit nie die lisensie in die gedrang sal bring nie.

Dit is mits die lugvaartowerheid in die buurland die nodige toestemming daarvoor gegee het.

Op 'n vraag aan Namases oor hoe lank Air Namibia in die huidige omstandighede sonder staatsingryping die wolf van die deur kan weghou, het sy gesê: "Ons is darem nog in bedryf, so ons het nog 'n inkomste. Ons betaal wat ons kan."

Die redery se versoek vir 'n tussentydse finansiële reddingsboei dien reeds voor die ministerie van werke en vervoer. Die permanente sekretaris, mnr. Peter Mwatile, was gister heeldag in vergaderings - volgens inligting onder meer oor hierdie krisis. Hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Kategorie: