
Mnr. Efraim Dawids
’n WEEKLANGE staking deur munisipale werkers op Gobabis sal na verwagting vandag afgelas word na ’n voorlopige skikking tussen die dorpsraad en die vakbond vir staatsdienswerkers (Napwu).
“Die situasie word nou konstruktief,” het mnr. Gabes Andumba, Napwu se adjunksekretaris-generaal, laataand Woensdag gesê na onderhandelinge wat feitlik die hele namiddag geduur het.
Die vakbond het volgens mnr. Anduma na sy aanvanklike aandrang op verhogings van 5% tot 15% ’n verhoging van N$200 op basiese besoldiging geëis. Die dorpsraad het
N$100 aangebied, terugwerkend tot Julie.
“Ek dink nie hulle kan meer aanbied nie,” het hy gesê.
Mnr. Efraim Dawids, hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, wou niks oor die inhoud van gesprekke met Napwu rep nie.
“Ons sal al die werkers Vrydagoggend bymekaar roep om hulle oor die situasie in te lig,” het hy gesê.
Die munisipaliteit het aanvanklik aangevoer dat daar nie ’n blou duit vir verhogings is nie. Volgens mnr. Dawids was daar ’n voorstel aan Napwu om met Gobabis se rekenmeester te gesels om die harde werklikhede agter die werkgewer se zero-aanbod te verduidelik.
Hy het Dinsdag al benadruk dat daar hoogstens ’n N$50 of N$100 per kop uitgehaal kan word.
Munisipale dienste is volgens mnr. Dawids glad nie deur die staking ontwrig nie, aangesien ver minder as die helfte van die dorp se sowat 190 werkers aan die protes op die grasperk voor die dorpskantore deelgeneem het.