
Mnr. Kazenambo Kazenambo
PASPOORTBEHEER in Duitsland het Sondagaand gesorg vir ‘n lelike onderonsie op die München-lughawe met Namibië se Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. Kazenambo Kazenambo, wat nou vuur spoeg.
Hy het sover gegaan as om Duitsland daarvan te beskuldig dat die land in die Steentydperk is. Ondanks die wonderbaarlike tegnologiese ontwikkelinge waarmee die land vorendag kom, het hy gesê die manier waarop teenoor hom opgetree is, is “barbaars”.
Min. Kazenambo was via Duitsland onderweg huis toe, ná hy ‘n wêreld jeugkonferensie in Meksiko bygewoon het.
Die adjunkhoof van missie van die Duitse ambassade in Windhoek, dr. Mathias Hansen, het aan Republikein verduidelik dat vervalste Ghanese paspoorte in oploop is en dat in ‘n ongelukkige sameloop van omstandighede, die paspoortnommers van die vervalse paspoorte ooreenstem met dié van sommige Namibiese diplomatieke paspoorte. Min. Kazenambo se paspoort is een hiervan.
Met sy se aankoms op die lughawe het die rekenaar by doeanebeheer alarm gemaak oor die paspoortnommer en terwyl doeanebeamptes agter die kap van die byl probeer kom het, het die Minister glo ongeduldig geraak omdat dit heelwat tyd in beslag geneem het.
Die uiteinde van die saak was ‘n vuurwarm argument met Min. Kazenambo wat uiteindelik gevra is om die ry te verlaat en na ‘n kantoor van die doeanebeamptes geneem is sodat die saak beredder kon word.
Min. Kazenambo het aan Republikein verduidelik dat hy geen probleem het met doeanebeamptes wat hulle werk doen nie, maar dat dit die manier is waarop hulle hom behandel het, wat hom rooi laat sien het. Hy sê dit is net swart mense van Afrika wat die teiken van dié soort optrede is en op die manier verneder word. Boonop het die Duitse doeanebeampte hom glo gekonfronteer en daarop aangedring dat hy erken dat dit ‘n vervalste paspoort is.
“Hulle het soos mal honde om my gesirkel met hulle gewere. Met sulke optrede vernietig betrekkinge tussen mense en lande.
“Dis hoog tyd dat ons mekaar begin respekteer en nie mense teister onder die dekmantel van wet en orde nie. Ek het hulle hel gegee. Aan die een kant predik ons versoening, maar aan die ander kant tree hulle ongelooflik arrogant op en tas ons menseregte aan.
“Hierdie mense moet besef ons woon vandag in ‘n globale nedersetting waar mense van alle kulture bymekaar kom. Hulle moet end kry met hulle primitiewe gesindhede en ophou met hul barbaarsheid,” het mnr. Kazenambo gestoom.
Met die hulp van dr. Hansen en Namibië se ambassadeur in Berlyn, mnr. Neville Gertze, wat weer met die Duitse ministerie van buitelandse sake in verbinding getree het, is mnr. Kazenambo om verskoning gevra en sy paspoort is aan hom terugbesorg. Hy moes die nag in München oorslaap omdat hy sy vlug na Windhoek verpas het.
Hy was gister terug in Windhoek.