6.02.2012 Mishandelde vul van kant gemaak
 Die vulletjie en die merrie wat ’n paar weke gelede onder haglike omstandighede op ’n sleepwa en ’n bakkie van die Suide onderweg was na die Noorde, Vrydag op ’n kleinhoewe buite Windhoek afgeneem. Die vul moes Vrydag van kant gemaak word nadat sy haar hoef verloor het as gevolg van beserings wat sy tydens die vervoerproses opgedoen het. Op die foto kan die wonde ook gesien word wat die merrie tydens die tog opgedoen het.
DIE vul wat twee weke gelede vasgebind agterop ’n bakkie op Okahandja gevind is ná sy saam met ses ander perde onder haglike toestande na die Noorde vervoer is, moes Vrydag deur ’n veearts van kant gemaak word.
Die vul het haar regtervoorhoef verloor as gevolg van beserings wat sy tydens die vervoerproses opgedoen het. Toe die vul op die bakkie gevind was, was haar bene oorkruis aan mekaar vasgebind en was die gewrigte erg geswel.
Volgens me. Hillary du Plessis van die Dierebeskermingsvereniging in Windhoek het hulle geen ander keuse gehad as om die ongeveer ses week oue vul van kant te laat maak nie, aangesien dit baie duur is om ’n perd waarvan die hoef afgeval het, se poot te behandel. Dit neem ook maande om te herstel.
“Ons het eenvoudig net nie geld om so iets te doen nie,” het sy Vrydag gesê na die vulletjie die genadedood toegedien is.
Veeartse het wel verlede week met die behandeling van die vul se poot begin na opgemerk is dat ’n gat aan die voorkant van die hoef verskyn het, maar teen Vrydag het die vul haar hoef verloor.
Die ander volwasse perde wat op die sleepwa vervoer is, herstel goed. Me. Du Plessis het gesê dat hulle steeds voortgaan met die behandeling van die diere se wonde en dat die beskadigde vel nou van sommige van die diere begin afval en nuwe vel begin groei.
Sy het genoem dat een van die diere ’n abses onwikkel het, maar dit word behandel.
Lede van die publiek het reeds na vore gekom en voer vir die perde geskenk, maar me. Du Plessis het gesê dat nog hooi en lusern benodig word.
Enigiemand wat belangstel om ’n skenking vir die beseerde perde te maak, kan me. Du Plessis gedurende kantoorure by 061 238 654 kontak.
Die diere is deur die polisie op Okahandja gekonfiskeer en aan die DBV oorhandig om te versorg. Borgtog van N$10 000 is aan die eienaar van die perde toegestaan en hy sal later vandeesmaand op ’n klag van dieremishandeling in die hof op Okahandja verskyn.
|