
Me. Ericah Shafudah
DIE sewe tenderaars in die wedloop om die Neckartaldam buite Keetmanshoop te bou, is verlede week vir toestemming gevra om die geldigheidsperiode van hul tenders met ’n verdere sestig dae te verleng.
Dit is gedoen om die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou meer tyd te gun om die aanbiedinge deur van die wêreld se voorste konstruksiemaatskappye opnuut te evalueer en ’n aanbeveling aan die raad te maak.
Volgens me. Ericah Shafudah, permanente sekretaris van Finansies en voorsitter van die Tenderraad, is die kwessie nie tydens Vrydag se vergadering bespreek nie. “Die Ministerie het die raad laat weet hy is steeds besig (om die tenders te herevalueer) en kan daarom nie ’n aanbeveling maak nie.”
Die Tenderraad het Vrydag sy tweede marathonvergadering vir die jaar gehou, maar ander tenders is bespreek. Alle oë is nou op die raad se vergadering komende Vrydag.
Die Tenderraad het op 17 Januarie briewe aan die sewe konstruksiemaatskappye op die kortlys gestuur en hulle versoek om teen Donderdag, 19 Januarie, aan te dui of hulle bereid is om die prysaanbod en waarborge met 60 dae tot 31 Maart te verleng.
Die drie maande geldigheidsperiode van hierdie omstrede tender wat reeds tevore verleng is, verstryk op 2 Februarie.
Aansoeke vir dié reusekonstruksieprojek, die grootste ooit in die geskiedenis van Namibië, het op 5 Julie verlede jaar gesluit.
Die Tenderraad versoek die tenderaars in die brief om skriftelik aan te dui of hulle bereid is om die prys waarvoor getender is en die waarborge ten opsigte van die werk wat verrig gaan word, te verleng. Die brief is deur me. Maria Jonga, waarnemende sekretaris van die Tenderraad, onderteken.
Intussen het mnr. Calle Schlettwein, Adjunkminister van Finansies, by navraag beklemtoon dat die Tenderraad tydens sy noodvergadering op 6 Januarie toe alle vorige besluite oor die Neckartaldam van die tafel gevee en die evalueringsproses na die Ministerie terug verwys is, dit duidelik gestel het dat al sewe die tenderaars op die kortlys “behoorlik deel van die wedloop moet wees en nie net die twee kontrakteurs wat in die media genoem word nie”.
Gerugte oor ongerymdhede in die tenderproses is op die voorgrond gedwing toe die Tenderraad op 16 Desember en 21 Desember terwyl verskeie van sy lede reeds met verlof was, glo eers besluit het om die tender aan China Henan International Corporation toe te ken en daarna in Impregilo van Italië se guns beslis het.
Die besluite is geneem ondanks die feit nóg China Henan International Corporation, nóg Impregilo in daardie stadium boaan die evaluasielys was.
Republikein het betroubaar verneem dat die Neckartal-groep, wat tot stand gekom het nadat WBHO Construction, Concor en die Padkontrakteursmaatskappy (RCC) ’n samewerkingsooreenkoms gesluit het, nommer een op die lys was.
Vier van die sewe tenderaars op die kortlys het die naweek by navraag aan Republikein bevestig dat hulle tot ’n verlenging van die geldigheidsperiode ingestem het. Die ander drie kon nie telefonies bereik word nie.
Buiten China Henan International Corporation, Impregilo en Neckartal JV, is Group Five Contractors (Namibië), Grinaker LTA (Namibië), Hochtief Construction (Duitsland) en Odebrecht- Tecnonam JV (Namibië en Portugal) ook in die wedloop om dié tweede dam in die Visrivier te bou en die infrastruktuur vir die grootmaat-waterlewering op te rig.
Die tenderbedrae wissel tussen N$1,962 miljard (China Henan International Corporation) en N$3,090 miljard (Odebrecht- Technonam JV).
Mnr. Andrew Ndishishi, permanente sekretaris van Landbou, Water en Bosbou, kon ondanks verskeie pogings nie die naweek vir kommentaar bereik word nie.