
Dié ongeluk het Sondagaand ná 20:00 sowat 30 km noord van Windhoek plaasgevind. Twee passasiers in die bakkie het gesterf terwyl vier wat ernstig beseer is. Die bussie se passasiers het net ligte beserings opgedoen.
ALTESAAM 64 padongelukke het die afgelope langnaweek die lewens van 13 mense landwyd geëis.
Met die skole wat oor ‘n week weer heropen, kan die res van die vakansie moontlik in ‘n swart vakansie ontaard indien daar nie groter versigtigheid op landspaaie, veral deur voetgangers, aan die dag gelê word nie.
Die meeste van die ongelukke vir die tydperk 25 tot 29 Augustus, is volgens die amptelike padongelukstatistiek van die Namibiese polisie in samewerking met die Motorvoertuigongeluksfonds (MVAF) deur voetgangers veroorsaak.

Die uitgebrande wrak naby Wilhelmstal is Sondagnamiddag afgeneem.
In die verband vra die polisie op Okahandja die publiek se hulp met die opspoor van ‘n tref-en–trapper wat Vrydagaand verantwoordelik was vir die dood van ‘n 34-jarige man op die verbypad langs dié dorp. Die persoon wat vir die ongeluk verantwoordelik was, het volgens bewysstukke wat op die toneel gevind is met ‘n wit Toyota VVTbakkie gery.
“Die persoon wat die motor bestuur het, moes teen ‘n verskriklike spoed gery het. Die voorval het op die verbypad na Karibib naby die plek waar Groblers Transport en Piet’s Biltongshop geleë is, plaasgevind,” sê sersant William Gray van die polisie op Okahandja.
Hy vra dat die publiek op die uitkyk moet wees vir ‘n wit Toyota bakkie wat aan die linker voorkant gestamp is en sonder ‘n modderskerm,’n linker voorlig en die luginlaatstrook onder die stamper is.
Volgens hom is daar baie skade aan die bakkie aangerig. Die ongeluk het vermoedelik tussen 22:00 Vrydag en 06:00 Saterdag plaasgevind.

Die ongelukstoneel naby Windhoek Sondagaand.
“Ons het die oorledene met behulp van ‘n kiesersregistrasiekaart identifiseer, maar kon tot dusver geen ander inligting oor hom kry nie. Sy familie kon ook nog nie opgespoor word nie,” sê sers. Gray.
Volgens hom was die man geklee in ‘n denimbroek en het vermoedelik ‘n oorpakbroek wat deur TransNamib aan hul werknemers uitgereik word, onder die broek aangehad.
Sers. Gray sê die bewyse op die toneel dui daarop dat die bestuurder van die bakkie langs die pad stilgehou het nadat hy die oorledene getref het.
“Die lyk is tussen drie en vier meter van die pad gekry. Dit lyk of die bestuurder gestop het om die oorledene uit die pad te sleep. Die lyk is sowat 100 meter van die plek van impak gevind,” sê hy.
Indien enigeen oor inligting rakende die ongeluk beskik, kan hulle vir sers. Gray by 081 277 4385 skakel.
Die meerderheid van die ongelukke oor die Heldedag-naweek het in die Khomas-, Kavango- en Oshana-streke plaasgevind. Altesaam 197 mense is in die tyd in padongelukke beseer.
Die meerderheid ander ongelukke kan volgens die MVAF veral toegeskryf word aan motoriste wat op onwettige plekke verbysteek en dus trompop-botsings versoorsaak, asook bande wat bars, diere op paaie en bestuurders wat beheer oor hul voertuie verloor.
Paaie waar motoriste ekstra versigtig moet wees is tussen Okahandja en Otjiwarongo, Omaruru en Kalkfeld, Omuthiya en Oshivello en Oshikuku en Oshakati.
Die afgelope langnaweek het 13 mense hul lewens op die land se paaie verloor.