
Wyle Magdalena Stoffels
DIE ongekende openbare solidariteit wat landswyd aan die orde van die dag is teen geweld teen vroue en kinders, het die Windhoek munisipaliteit laat besluit om busse beskikbaar te stel vir Magdalena Stoffels se begrafnis.
Magdalena, die 17-jarige slagoffer van verlede week se grusame verkragting en moord in Khomasdal, word Saterdag 08:00 vanuit haar ouerhuis in Elizabethstraat 1593, Khomasdal, begrawe.
’n Spesiale roudiens word daarna (09:00) in die skoolsaal van die Hoërskool Dawid Bezuidenhout gehou waarna die stoet na die Khomasdal begraafplaas sal vertrek vir die teraardebestelling. Vir die groot opkoms wat by die begrafnis verwag word, sal munisipale busse beskikbaar wees om die roubeklaers van Magdalena se ouerhuis na die Hoërskool Dawid Bezuidenhout en ook na die Khomasdal begraafplaas en weer terug te vervoer.
Sedert die tragedie het die Namibiese gemeenskap hul harte oopgemaak vir Magdalena se familie. Die familie het reeds verskeie skenkings ontvang om die koste van die begrafnis te help dek.
Steun het uit alle oorde ingestroom en die Minister van Justisie, me. Pendukeni Iivula-Ithana het kort na Magdalena se moord by die familie besoek afgelê. Ook die presidentsvrou, me. Penehupifo Pohamba, het haar medelye aan die familie by hul huis gaan betuig.
Die ontbossing van gevaarlike gebiede word vandag in Windhoek voortgesit. Die Women’s Action for Development (WAD) en studente van die Universiteit van Namibië (Unam) sal vanaf 09:00 weer in die Gammams-rivier wees om die gebied waar die grumoord plaasgevind het, verder te beveilig.
Ondertussen berig
Theo Gurirab dat die gru-moordenaar van Grootfontein wat Vrydagaand me. Theresia Gaigub, ’n 30-jarige vrou, ses keer met ’n mes gesteek en daarna haar keel met dieselfde wapen oopgekloof het, ’n reputasie op die dorp opgebou het as ’n gewoonte messteker.
Die verdagte het glo reeds op ‘n slag sy eie pa met ’n mes gesteek en is deur sy pa uit die huis gesit. Hy het sedertdien by sy ouma in die informele woonbuurt tuis gegaan. Die verdagte het gister voor die hof op Grootfontein verskyn.
Die saak is tot September uitgestel om hom tyd te gun om vir regshulp aansoek te doen. Wyle me. Gaigub, wat in die informele woonbuurt woonagtig was, is naby die Hakahana-supermark in die middel van die Omulunga- woonbuurt vermoor.
Fred Goeieman berig uit die Nasionale Raad dat die debat oor die mosie oor toenemende geweldpleging teen vroue en kinders na aanleiding van die moord op Magdalena Stoffels, gister voortgesit is.
Mnr. Johnny Haikela Hakaye, van die Okalongo-kiesafdeling in die Omusati-streek het Namibië as “’n droewige slaghuis vir jong meisies, vroue en babas” beskryf. Hy meen die howe moet ‘n voorbeeld maak van die verdagte in die moord op Magdalena.
Mnr. Hakaye meen egter moord in enige vorm is krimineel en kan nie deur die staat regverdig of dekriminaliseer word nie. Die staat kan dus nie deur die herinstelling van doodstraf oorneem nie.
Kastrasie van “demoonaangedrewe moordenaars” kan ook nie oorweeg word nie. Hy het egter beklemtoon dat geregtigheid tot die beste bevrediging van die gemeenskap as geheel administreer moet word.
“Strenger vonnisse gepaardgaande met harde werk moet aan skuldigdes van dié wandade opgelê word. Hulle moet aan die gemeenskap terugbetaal,” het hy gesê.
Mnr. Hakaye het verder gesê hoewel Windhoek bekendheid as die skoonste stad in Afrika verwerf het, hy twyfel of dit die veiligste stad is. Hy beweer daar word nie na rivierbeddens met meer as ses meter lange bome gekyk nie en dit is ideale wegkruipplekke vir misdadigers. Dit is van hier waar hulle allerhande bose dade pleeg soos verkragting en moorde op jong meisies en vroue, dagga rook en dwelms misbruik en selfs jong seuns en mans aanval en beroof.
Hy het ‘n beroep op die munisipaliteit van Windhoek gedoen om brûe vir voetgangers oor rivierlope aan te bring.
Met verwysing na die moord op Magdalena het mnr. Hakaye gesê: “Op ‘n bloedjong ouderdom het die engel ‘n monster teëgekom wat in die vorm van ’n man teen haar opgetree het. Ware mans is nie soos hy nie! Ware mans is diegene wat aan hul medemens sorg, beskerming, verdediging, liefde en berou toon!” het hy uitgeroep.
Mnr. Sebastian !Gobs, UDF-verteenwoordiger van die Khorixas-kiesafdeling in die Kunene-streek, het voorgestel dat beide lede van die Namibiese weermag en die polisie ontplooi moet word om die rivierlope in die stad te patrolleer.