DIE polisie het Maandag ’n man in hegtenis geneem wat glo sy vrou verlede week met ’n byl doodgemaak en hul hut aan die brand gesteek het. Hy moet vandag in die hof op Rundu verskyn.
Die oorledene, Elina Levi (34), se lyk is in ’n plas bloed gevind langs ’n byl en ’n gebreekte stuk hout, wat haar man na bewering gebruik het om haar mee te slaan.
Levi laat vier kinders na, van wie een ’n drie maande oue seuntjie is. Die oorledene het op die dag van haar dood by haar ma gaan kuier. Met haar aankoms by die huis, het haar man haar gekonfronteer en beskuldig dat sy by ’n ander man was. Na ’n argument het die beskuldigde glo die hut aan die brand gesteek en sy vrou met ’n byl aangeval.
Levi was voorheen met die beskuldigde se broer getroud en het sy broer ná haar man se dood “geërf.” Die beskuldigde is glo bekend vir sy gewelddadige optrede en sy vorige vrou het glo weggehardloop nadat hy haar herhaaldelik met ’n mes gesteek het.
– Nampa