20.01.2012 Ma se doodstryd by hospitaal
“AS die verpleegsters en dokters by die ongevalle-eenheid was, sou my ma nog gelewe het,” het ’n hartseer Charlene van Wyk (17) gister gesê oor haar ma, die 44-jarige Me. Annemarie van Wyk van Rehoboth, se dood Saterdagoggend.
Sy vertel dat haar ma die oggend net ná vyfuur by die huis ’n hartaanval gekry het en dat sy en van haar tantes met haar ma na die St. Mary’s Katolieke hospitaal op die dorp gejaag het.
“Toe ons daar kom, was daar nie ’n siel by ongevalle nie. Ons het rondgekyk en rondgehardloop op soek na iemand wat ons kon help, maar daar was nie ’n verpleegster naby nie,” vertel sy.
Die ontvangsdame wat aan diens was, ene Peggy, het glo na die verpleegster aan diens begin soek. Intussen het Annemarie so gesukkel om self asem te haal dat Peggy moes inspring om suurstof toe te dien. Verpleegpersoneel het eers na sowat 15 tot 20 minute daar aangekom om na haar om te sien.
“Hulle het die dokter aan diens gebel en hy het eers ’n uur en ’n half later by die hospitaal aangekom om na my ma te kyk. Hy het gesê sy is stabiel en buite gevaar en dat sy na ’n hospitaal in Windhoek geneem moes word.
“Net voor Windhoek het sy weer ’n aanval gekry. Toe ons by die Katolieke hospitaal aankom waar sy na die intensiewesorgeenheid moes gaan, het die hospitaal op Rehoboth nie laat weet dat sy op pad is nie, wat tot verdere oponthoud gelei het. Sy is toe daar oorlede,” het Charlene vertel.
“As hulle op Rehoboth vroeër na haar omgesien het, sou dinge anders gewees het,” het sy benadruk. “Ons was vir twee ure daar en dit het nie gelyk asof enigiemand regtig in ons belanggestel het nie.”
Gister wou die hoofde van die hospitaal op Rehoboth nie kommentaar lewer oor die voorval nie. Hulle was nie seker presies wat gebeur het nie en het aangedui dat die hospitaal vandag kommentaar sal lewer nadat die berig verskyn het.
Suster Diandriet Diergaardt, matrone van die hospitaal, het gesê as die familie oor die behandeling wil praat wat Annemarie ontvang het, is hulle welkom om die bestuur te gaan sien.
|