9.02.2012 Lemmer se lyfstraf laat ly
’n PAK slae met ’n plank het ’n leerling met ’n pimpel en pers agterstewe gelaat en ’n onderwyser van die Sekondêre Skool Dr. Lemmer op Rehoboth ’n klag van aanranding op die hals gehaal.
Pastoor Nico Bock het ’n week gelede ’n klag van aanranding by die polisie op die dorp aanhangig gemaak, nadat sy 15-jarige seun kort tevore deur ’n onderwyser by die skool slae met ’n plank gegee is.
Volgens Bock was sy seun, ’n graad 10-leerling, die middag emosioneel aan die etenstafel. “Toe ek hom daaroor uitvra, het hy gesê hy en nog ’n paar leerlinge in die klas het elk drie houe met ’n plank gekry, omdat hulle gepraat het.”
Volgens Bock was die onderwyser wat die slae uitgedeel het, nie in die klaskamer tydens die pratery nie, maar is die skuldiges se name op ’n lys geskryf. “Die onderwyser het van ’n klas langsaan gekom, die leerlinge wie se name op die lys was, vorentoe geroep en elkeen drie houe gegee met ’n plank waarmee hy die klas binnegekom het.”
Volgens Bock was sy seun se agterstewe pimpel en pers met bloed wat begin deursyfer het. Hy het hom vervolgens na ’n dokter op die dorp geneem wat die kind ondersoek en ’n verslag geskryf het.
Bock het dieselfde dag ’n klag van aanranding teen die betrokke onderwyser by die polisiekantoor op die dorp aanhangig gemaak. Hy het ook die saak met Dr. Lemmer se skoolhoof, me. Eunice Mostert, bespreek wat hom na mnr. George Dax, waarnemende inspekteur van onderwys, verwys het.
Volgens Dax kan hy tegnies gesproke nie iets aan die saak doen nie, omdat die betrokke onderwyser reeds vroeër ’n oorplasing na ’n ander skool gevra het en twee dae na die voorval sy diens by Dr. Lemmer beëindig het.
“Hy was baie behulpsaam en het ook gesê dat die aangeleentheid deur die skoolraad ondersoek moet word.” ’n Brief is ook deur Bock aan ’n lid van die skoolraad oorhandig waarin die aanrandingsklag en verwante voorval beskryf is.
Volgens Bock was die polisie huiwerig om die saak formeel te ondersoek.
“Die ondersoekbeampte het dit baie duidelik gestel dat die polisie verklarings van leerlinge as getuies gaan soek. Hiervoor is die ouers se toestemming nodig en volgens die beampte sien hulle nie daarvoor kans om hul kinders aan ’n ondersoek en hofproses bloot te stel nie. Volgens die beampte gaan dit veroorsaak dat geen getuies gaan opdaag nie en die saak dus summier uitgegooi gaan word.”
Mostert het gesê die skoolraad het reeds oor die voorval en verwante klag vergader. Sy wou egter nie sê watter besluite in die verband deur lede geneem is nie. Dax het op sy beurt verduidelik dat, sou die skoolraad meen die saak nie intern deur hulle opgelos kan word nie, dit na hom verwys sal word.
“’n Dissiplinêre proses word na gelang van die aard en erns van die oortreding gevolg. Indien die skoolraad meen dat hulle dit nie intern kan hanteer nie, word dit na my verwys. Die volgende mense in die gesagslyn is die direkteur van onderwys en dan die permanente sekretaris van onderwys.”
|