23.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

30.08.2010

Legende sterf


Wyle mnr. Boel Dreyer
‘n LEGENDE in onderwys– en sportkringe in Namibië, mnr. Boel Dreyer (75), het Donderdagnamiddag sy stryd teen Parkinsons se siekte verloor.

“Onderwys is die wonderlikste beroep. Die herinneringe aan my oudleerlinge het gesorg vir die brandhout om my wintervuurtjie aan die gang te hou,” het hy na sy aftrede gereeld aan sy vrou, me. Joey Dreyer, ook ‘n geliefde oudonderwyseres, vertel.

“Hoewel sy liggaam deur die siekte afgetakel was, het sy verstand tot aan die einde helder gebly en het hy al sy oudleerlinge en hul stoutighede onthou,” het me. Dreyer aan Republikein vertel.

Wyle mnr. Dreyer het vir 44 jaar diep spore as onderwysman in die land en sy leerlinge se harte getrap.

Hy het sy onderwysloopbaan in 1950 op Stampriet begin. Daarna was hy verbonde aan die Sekondêre Skool Swakopmund en vanaf 1959 tot 1982 by Hoërskool Windhoek (WHS) waar hy later departementshoof was.

Hy was vir 16 jaar koshuisvader van die seunskoshuis van WHS en Huis Dreyer is na hom vernoem. Hy het aanvanklik metaalwerk by WHS gegee en die groot skoolwapen aan die westekant van WHS, uitgeklop op plaatmetaal, is sy mooi handewerk.

Die vak wiskunde was egter sy passie en selfs na sy aftrede in 1994 as adjunkhoof van Hoërskool Academia, het hy hulpklasse in wiskunde vir leerlinge aangebied.

Wyle mnr. Dreyer was ook ‘n uitstekende sportman. Hy het as provinsiale rugbyspeler op slot vir die destydse Suidwes-Afrika en die Oostelike Provinsie (OP) uitgedraf.

Van die hoogtepunte in sy rugbyloopbaan was die wedstryd Suidwes-Afrika en die Wallabies.

Andries Willem Dreyer is op 21 Oktober 1934 in Windhoek gebore, waar hy ook aan WHS gematrikuleer het. Hy het onderwys aan die opleidingskollege op Graaff-Reinet in Suid-Afrika studeer en daarna sy studies deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) voortgesit.

Op 30 Junie 1962 het hy met me. Joey (néé Rootman) in die huwelik getree en twee kinders, Milana en Willie, is uit die gelukkige huwelik van 49 jaar gebore. Willie woon en werk in Windhoek en Milana Jaquire en haar gesin het Vrydag uit Ladybrand in die Vrystaat in Windhoek aangekom. Sy het in haar befaamde ouers se voetspore gevolg en is ook ‘n onderwyseres.

Oudleerlinge praat net met lof en respek van die gewilde Dreyer-onderwyspaar. Huldeblyke het van heinde en verre vir mnr. Dreyer van oudkollegas en -leerlinge ingestroom, selfs vanaf Suid-Afrika en die buiteland.

“Oom Boel, jy het my as onderwyser, vriend en mentor soveel hulp en raad gebied.

“Nou is jy by Hom wat jou geestesoë vul met die volmaakte teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus. Rus sag, ons vriend en heer,” skryf ‘n oud-departementshoof van WHS, mnr. Danie Knoetze uit Welkom in die Vrystaat, aan Republikein.

“Mnr. Piet Burger, oudskoolhoof van Primêre Skool Eros, vertel hoe die interkom in die klas altyd vir mnr. Dreyer geïrriteer het. Eendag toe die interkom hom vir die tweede keer in ‘n klas onderbreek, toe spring hy soos ‘n wafferse slot op, pluk dit uit die muur en gooi dit eenkant.

Die leerlinge wou ontplof van die lag, maar het ook geweet as hulle toe sou lag, hulle die klas met brandboude sou verlaat. (Mnr. Dreyer was ook bekend vir hoe hard hy ‘n lat kon swaai.) Hy het omgedraai en rustig verder klasgegee,” vertel me. Dreyer.

Buiten sy vrou en twee kinders, laat mnr. Dreyer twee kleindogters agter.
Sy begrafnis vind môreoggend tienuur vanuit die NG Kerk Suiderhof plaas.

Vir verdere navrae, skakel me. Dreyer by 061 251 431 of 081 258 9003 of vir Willie Dreyer by 081 124 1659.