
Mnr. Tom Alweendo
EEN van die hoofaktiwiteite ter voorbereiding van die bevolking- en behuisingsensus wat in Augustus volgende jaar gaan plaasvind, is die behoorlike sensuskartering van die land.
Die Sentrale Statistiekburo is reeds vir meer as jaar besig met voorbereiding vir die sensus.
Sensuskartering word onderneem met die doel om ’n telling van elke individu binne die landsgrense te verseker en te verseker dat geen dupliserings of uitlatings in die tel van mense sal plaasvind nie.
Volgens die Direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, mnr. Tom Alweendo, is die gevolg van die kartering dat die land in kleiner demografiese gebiede, sogenaamde opsommingsgebiede, verdeel gaan word.
’n Teller sal aan elkeen van die opsommingsgebiede toegedeel word wat mense in huise en kantore binne die landsgrense oor ’n bepaalde tydperk, sal tel. Dit duur gewoonlik twee weke.
Mnr. Alweendo het genoem dat anders as in vorige karteringoefeninge, is die tegnologie digitaal verbeter om inligting van alle behuisingstrukture in die land in die sensusopname in te win.
Van die redes wat hy hiervoor aanvoer, is dat die verbetering van versameling van inligting van alle behuisingseenhede, die benadering tot en die verspreiding van inligting by verskillende geografiese grense en die tydanalise daarvan bevorder.
Huidig werk ses karteringsbeamptes in die ses noordelike streke van die land om te verseker dat hierdie digbevolkte gebiede se kartering afgehandel is voor die reënseisoen begin.
Tydens die karteringsoefening word inligting oor fisiese en maatskaplike infrastruktuur versamel, wat ook gesondheids- en onderwysgeriewe, polisiekantore en bewaringsgebiede insluit.
Die eindresultaat van die oefening is ’n inligtingstelsel wat vinnige optrede met betrekking tot rampe soos droogte en vloede tot gevolg sal hê.
Dit word voorsien dat die karteringsoefening teen Mei aanstaande jaar voltooi sal wees.
Die laaste sensusopname in Namibië is 2001 uitgevoer. Gedurende hierdie opname is 98 persent dekking behaal, wat hoog was volgens internasionale standaarde. Dit was ’n rekord as die hoogste dekking wat nog in Afrika in daardie tydstip aangeteken is.